Kom ontdek saam met my...
…’n reis na Lewe en Oorvloed. Ek deel graag met jou brokkies uit my geestelike reis. Mag jy bemoediging vind en ook inspireer word om jou pad van groei met ander te deel.
ANETTE LAKER
WIE IS EK?
Liewe Leser
As ‘n gebore KAROOKIND, is ek geweldig bevoorreg om die wonderlikste, sout van die aarde ouers te hê. Hulle het vir my ‘n stewige grondslag vir my geestelike oortuiginge geskep en is vandag nog vir my ‘n groot inspirasie. Ek noem dus hierdie webtuiste KAROOKIND, uit erkenning aan my ouers en my wortels in die Karoo.
Sedert my studentejare, is ek baie bevoorreg om (behalwe vir 2 jaar in Johannesburg en ‘n jaar in Brittanje) in pragtige Stellenbosch te kan woon.
Hier het etlike mense my pad gekruis en sommige het ‘n lewensveranderende rol gespeel in my geestelike groei. My dank en erkenning aan elke persoon wat my geleer en inspireer het. Ook ‘n spesiale woord van erkenning aan sóveel mense (gelowiges én ongelowiges) wat my deur die jare vertrou het met hulle diepste pyn en hartseer. Ek het só baie by elkeen kon leer en baie van julle was ‘n gróót inspirasie vir etlike van die artikels op die webtuiste.
My grootste dank en erkenning gaan aan my liefste man, beste vriend en pa van my pragtige kinders. Dankie vir sóveel jare van saam dink, bid en gesels oor die lewe. Sonder jou aanmoediging en hulp sou die skryf van dié webtuiste nie moontlik gewees het nie!
My hart is vol met dankbaarheid vir die pad wat ons Vader in my lewe met my gestap het om Sy Woord beter te kon verstaan. Soos met BAIE gelowiges die geval is, was my lewenspad nie altyd met rose besaai nie en moes ek onder andere vir baie jare leer om met baie gesondheidsprobleme en pyn te leef. Hoewel ek nie ‘n teologiese agtergrond het nie, het ek deur die “universiteit van die lewe” Hom leer ken en vertrou as ‘n getroue God en liefdevolle Vader.
Met die artikels en skrywes wat ek hier plaas, deel ek met jou my ontdekkingspad van die lewe en ook van die onveranderlike Woord van God. Ek nooi jou om saam met my die pad van Sy liefde te ontdek en my ook te kontak met jou persoonlike getuienis.
ANETTE LAKER
Ps 16:6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
_____________________