Die eens ondenkbare word waar!
Wat ‘n unieke tyd in die wêreldgeskiedenis beleef ons nie tans nie?! Net ‘n paar maande gelede nog, het ons tydens ons somervakansie verneem van Wuhan in China, waar mense almal in hulle huise móét bly agv ‘n hoogs aansteeklike virus. Ons reaksie was ongeloof en ‘n kortstondige oomblik van jammerte om van hulle probleem te hoor, maar dan het ons vrolik verder gelag en ons geliefdes gedruk en gesoen. Iets waarna ons vandag hartstogtelik verlang! Die ondenkbare het tot by ons huise gekom!
Hier sit ons nou reeds bykans 2 maande ingeperk en geïsoleerd by ons huise. Kos word deur die internet bestel, kruideniersware word gewas, ons stap soos afkop hoenders al om ons huise… Ons kanseleer wintervakansieplanne en spesiale verjaarsdagpartytjies en troues. Ons hou moedersdag sonder kinders en selfs mense wat sterf, kan nie behoorlik van afskeid geneem word nie. Oor die wêreld geen sportbyeenkomste, kerkdienste, konserte… Alles kom tot stilstand!
Sosiale media gons!
Een ding wat egter nie gestop is nie en wat gons, is die internet en sosiale media! Eg aan ons Suid-Afrikaners se ingesteldheid teenoor die lewe, is die humor wat na vore kom ook nou ‘n groot bron van plesier!
In die era wat ons leef het elke persoon ‘n reg op ‘n mening van sy eie en tegnologie maak dat élke persoon deur sosiale media ‘n platform vind om sy stem te laat hoor. Gewone mense en ook kenners word verdeel in verskillende kampe van sienings. Oor die wêreld heen verskil mense oor die erns van die virus en oor die nodigheid van inperking. Vals nuus is aan die orde van die dag! Verdagmakery en samesweringsteorieë vier hoogty. Ons word bombardeer met inligting van verskillende sieninge uit alle oorde.
Ander wonder of dit die einde van tyd is soos die Woord waarsku? Gaan die wegraping enige oomblik gebeur? Sommige mense kyk na gebeure en soek na verse in die Woord wat aandui dat hierdie beslis tekens van die einde is. Etlike preke, teorieë en interpretasies van eindgebeure word versprei. (Wat suiwer waarheid en wat geforseerde interpretasie is, wil ek my liewer nie oor uitlaat nie. Elke gelowige moet self by die Here hoor watter leermeesters die moeite werd is om na te luister.)
Elkeen van ons gaan ‘n storie hê na inperking. Een ding staan vir my tydens hierdie tyd soos ‘n paal bo water:
DIT WAARMEE JY JOU TYD GAAN VERWYL TYDENS INPERKING, IS WAT DIE WÊRELD DAAR BUITE VAN JOU GAAN WAARNEEM! NOU EN IN DIE TOEKOMS!
Inperking in die Bybel
Inperking of isolasie is in die Bybel nie ‘n vreemde konsep nie. Die prediker Dr. David Jeremiah gee ‘n kosbare woord oor inperking/isolasie (“time of shelter”) wat ek aan die einde van dié skrywe aanheg.
Ons weet nog nie presies wat die Here in gedagte het vir elkeen van ons óf met die mensdom tydens hierdie seisoen van inperking nie. Ons kan wel in die Woord van God kyk na wat Hy gedoen het met mense na tye van inperking/isolasie:
- God bewaar Noag en sy familie in die ark en daarna word Noag die Vader van al die nasies op aarde.
- Jakob vlug vir die wraak van sy broer Esau en hy kruip weg by sy oom Laban. 20 jaar later kry Jakob ‘n nuwe identiteit. Hy word Israel, die Vader van God se uitverkore volk.
- Josef spandeer ‘n groot deel van sy lewe in slawerny en selfs in die tronk, maar God berei hom voor Sý groot plan met Josef se lewe.
- Moses vlug weg van Farao en spandeer 30 jaar in die woestyn, maar hy kom terug en lei die volk Israel kragdadig uit Egipte tot by die beloofde land Kanaän.
- Dawid was as jong man reeds gesalf as koning, maar God laat hom 15 jaar wag voordat die tyd reg is om die koningskap op te neem. Hierdie beproewing en moeilike jare wat hy selfs in die berge moes wegkruip, lei tot etlike Psalms en baie wysheid wat ons tot vandag nog mee kan identifiseer en wat vir ons troos en hoop bring.
- God beskerm Daniël 70 jaar in Babilon waar sy skrywes duidelik profetiese riglyne vir gelowiges van alle tye oor God se planne vir die toekoms is.
- Na Jesus se hemelvaart, isoleer God die dissipels vir 10 dae in die bokamer in afwagting op die uitstorting van die Heilige Gees. Daarna begin die kragtige nuwe era van die Christelike kerk.
- God isoleer Paulus na sy bekering vir 3 jaar in Arabië voordat sy bediening kragdadig begin.
- God isoleer Paulus in Rome in die tronk en teen die tyd wat hy vrygelaat word, het hy Efesiërs, Fillipense, Kollosense en Filemon geskryf.
- God isoleer die apostel Johannes op die eiland Patmos en die resultaat is die grootste profetiese boek van alle tye, Openbaring.
- Selfs Jesus is vir 40 dae in isolasie in die woestyn. Nadat Hy daar uitkom, begin Hy Sy bediening met krag en oorwinning!
Soos Dr. David Jeremiah sê, ons weet nie wat God tydens inperking en isolasie as gevolg van die Koronavirus gaan doen nie, ons weet net dat Hy in die verlede groot dinge gedoen het tydens tye van isolasie!
Wat doen jy?
Hoewel sommige mense nou besiger as ooit is, het baie van ons tans meer tyd op hande as wat ons voor inperking gehad het. WAARMEE HOU JY JOU BESIG MET HIERDIE EKSTRA TYD OP HANDE? Dit waarmee ons ons gedagtes, harte en gesprekke vul, gaan bepaal of ons in hierdie tyd gaan groei as mens, of ons oorweldig gaan word deur die negatiewe wat tans hoogty vier en of ons gaan meedoen aan negatiewe en afbrekende praatjies wat tans in omloop is.
Is jy gereed dat God jou gedurende en ná hierdie unieke fase in tyd kragtig kan gebruik? Dit gaan bepaal word deur díe dinge waarop jy tans fokus. Of jy saamstem of die virus gevaarlik is of nie, of jy saamstem met inperking of nie, dit maak nie saak nie. Ons word almal uitgedaag op maniere wat ons nooit kon bedink moontlik is nie.
GAAN INPERKINGSTYD JOU AS MENS BOU OF BREEK?
Dis in jou hande! Dit waarmee jy kies om jou hart en gedagtes vol te maak, gaan jou uitkoms as mens bepaal en ook die roeping wat God vir jou het op jou lewenspad vorentoe.
Mag ek en jy NOU die tyd uitkoop om na Sý stem te luister en SO in eenheid met God groei, dat ons saam met Sy plan vir die toekoms kan vloei. Mag die oorvloed van wêreldse menings en sosiale media nie van ons roof, dít wat God ons in die unieke tyd wil leer nie!
Veilig bly!
Anette