Voorbereiding tot herstel
God wil die gebroke hart genees en herstel en dit is Sy Vaderhart dat elkeen van Sy kinders in ‘n noue verbintenis met Hom moet leef. Hy wil hê dat die dinge van ons verlede nie meer ons lewens moet beïnvloed en ‘n struikelblok op ons pad van groei moet wees nie. Vervolgens kyk ons na die pad wat ‘n kind van God kan stap om genesing van emosionele wonde te kry en in oorwinning te stap.
Hierdie is die eerste basiese stappe tot wedergeboorte en die begin van ‘n pad van herstel:
- Gee jou hart aan Jesus, ontvang die Gees van God om jou te lei en leer en begin wandel in ‘n nuwe lewe as kind van God.
- As jy voel dat jy in jou lewe iemand te na gekom het, bely die oortreding/ sonde en vra God (soms nodig om ook die persone betrokke) om vergifnis. Matt 5:23-24
- Vergewe en spreek die persone wat jou seergemaak het vry. Matt 6:12, 14-15
- Laat alle oordeel en veroordeling in God se hande. Vra God om hulle te vergewe wat hul aan jou gedoen het. Lukas 23:34, Hand 7:60
- Sterf aan jouself en leef ‘n lewe waarin jy alles (jou hart, gedagtes, besittingsfamilie, toekoms) aan God oorgee. Matt 19:21, I Pet 5:5-6, Luk 18:22-30, Mark 8:34-37, Psalm 119:164-168
WAARSKUWING: ‘N GEWONDE HART WAT NIE GENESING ONTVANG, IS ‘N OOP DEUR VIR BOSE MAGTE OM TOEGANG TE KRY. Ef 4:26-27, I Pet 5:8, Gen 4:4-7, Matt 18:21-35.
In die afdeling oor STRUIKELBLOKKE het ons gesien dat wonde of pyn van die verlede ons geestelike groei en ons verhouding met die Here, ernstig kan kortwiek. Vervolgens kyk ons na wat is die stappe tot genesing wat ons kan volg om waarlik vry te kom en in oorwinning te leef:
Stappe tot genesing
- Erken dat jy genesing nodig het. Ons jok of mislei dikwels vir onsself en ontken dat iets ons regtig seermaak of seergemaak het. Eerlikheid is baie bevrydend en is NIE swakheid nie!
- Open 3:17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
- Vind die oorsaak van die pyn. Soos wat ons in ons fisiese liggame verwysde pyn kan ervaar, kan ons ook in ons emosies verwysde pyn ervaar. As jy sukkel om geestelike deurbrake te kry, maar nie weet wat die oorsaak is nie, soek leiding of vra die Gees om aan jou te openbaar waar die wortel van jou pyn lê.
- Ps 139:23-24 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!
- Maak skoon die wond. As ons emosionele wonde nie oopgemaak en ons harte skoongemaak word nie, kan die wond besmet word met onvergifnis, woede, bitterheid, depressie, angstigheid of ander gesondheidsprobleme. Die Woord impliseer dat ons “plek gee aan die duiwel”.
- Ef 4:26-31 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.bLaat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.
- Vir skoonmaak van die wonde, moet ons:
- Húlle vergewe wat teenoor ons oortree het.
- Vra God vergifnis en om ons te reinig (1 Joh. 1:9).
- Ons moet dáárdie area van ons lewe aan Hóm oorgee.
- God vra om ons emosies te herstel.
- Ps 23:3 He restores my soul; He leads me in paths of righteousness for His name’s sake
- Enige moontlike bose magte wat kon toegang kry, uitdryf in die naam van Jesus. Hiervoor is dit nodig om na kundiges op die gebied van bevryding te gaan vir ondersteuning.
- Neem jou genesing in ontvangs. Bely en GLO dat jy vrygemaak is en genees is.
- Deut 7:15 En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem…
- Ex 15:26 en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.
- Ons ontvang genesing deur:
- Te glo dat ons Hom kan vra vir genesing.
- Te verstaan dat Jesus alle tipes van wonde gelei het (Jes. 53:3) en dat Hy ‘n plaasvervanger vir ons geword het (Jes. 53:4).
- Te verstaan dat Jesus gestuur was om die gebrokenes van hart te genees (Luk 4:18, Jes 61:1).
Word versterk
Nadat genesing plaasgevind het, is dit nodig dat jy versterk word in die area waar jy genesing ontvang het. Net soos wat die liggaam se spiere verswak was nadat jy bv. jou been gebreek het, net so moet jy, as jy ‘n emosionele wond gehad het, ook in daardie spesifieke area jouself begin oefen om sterker te word. Andersins sal die vyand jou voortdurend bly aanval in daardie area deur jou gedagtes te fokus op die gebeurtenis wat die wond veroorsaak het. As dit byvoorbeeld minderwaardigheid was, moet jy leiding kry om jou denke rondom jou minderwaardighede te vernuwe en NUUT oor jouself begin dink EN praat! Noem jouself soos wat God jou noem – ‘n Koningskind en oorwinnaar!
- 2 Kor 10:4-5 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Dit is nodig dat jy jouself sal versterk deur die Woord van God van toepassing op jou lewe te maak:
- Ons moet die groter doel probeer sien agter dít wat met ons gebeur het.
- Gen 50:19-20 Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.
- Ons moet insien dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.
- Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
- Ons moet ons in die Here kan verbly oor dit wat met ons gebeur het.
- Fil 4:4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
- Ons moet die oorwinning wat ons ervaar het, met ander kan deel deur daaroor te getuig.
- Open 12:11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
NB: Vra aan die Heilige Gees om enige wonde in jou lewe aan jou te wys, sodat jy daarvoor genesing kan ontvang en dit nie in tye van beproewing vir jou ‘n struikelblok sal word nie.
Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Ps 139:23-24