Waarom beproewing en pyn?

You are currently viewing Waarom beproewing en pyn?

Feitlik elke persoon met wie mens praat ervaar tans uitdagings, hartseer of baie druk. Amper almal ken iemand wat aan Covid-19 gesterf het of ernstig siek was, hulle besigheid of werk verloor het of groot finansiële skade gely het. Behalwe Covid, is daar ook sóveel ander uitdagings wat ons en mense om ons ervaar. 

Dalk gaan jy ook soos ek tans deur ‘n moeilike beproewing? Dalk worstel jy ook met vrae oor die hoekoms? Waaroms? Is daar regtig ‘n doel hiermee? Hoe op aarde gaan God sy belofte van Rom. 8:28 vervul deur ook hierdie ten goede te laat meewerk?! 

PETRUS SE BEPROEWING 

Die nag voordat Jesus gevange geneem is, sê Hy vir Petrus: “Simon, Simon!… Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie.” Jesus profeteer hier dat daar iets groot gaan gebeur in Petrus se lewe wat vir hom ‘n baie diep beproewing gaan wees. 

Petrus verklaar, impulsief aan sy geaardheid, dadelik dat hy bereid is om saam met Jesus die pad te loop selfs tot in die gevangenis en die dood. Min besef hy dat hy op daardie dag nog gaan faal en Jesus drie maal verloën. Wanneer die haan kraai en Petrus besef wat pas gebeur het, het hy uitgegaan en bitterlik geween. Hý wat kort tevore nog ewe dapper sy swaard uitgepluk het en die soldaat se oor afgekap het, maak nou asof hy Jesus nie ken nie. 

Die ergste vir hom was sekerlik die feit dat hy wéét Jesus weet van sy verraad en dat Hy hom gewaarsku het dit gaan gebeur. Mens kan jou net indink deur watse wroeging Petrus moes gaan in die laaste ure wat Jesus aan die kruis gehang het. Sal hy voor Jesus sterf na hom toe gaan en hom om vergifnis gaan vra of sal hy liewer net in sy skaamte en pyn wegbly van Jesus af? Ek kan my net indink watse versoening daar tussen Petrus en Jesus kon wees in Jesus se sterwensure as Petrus hom na die kruis gehaas het en Jesus om vergifnis gevra het. Soms maak ons pyn ook dat ons in ons self gekeer raak, in stilte op ons eie wroeg en ly en dit nie na die kruis van Jesus neem nie. Miskien hou die kwaad of teleurstelling oor jou beproewing ook vir jou daarvan weg om jou pyn na Jesus toe te neem? Jy is nie alleen nie! Ek het al dikwels in my lewe gevoel dat ek wil opgee op Jesus, want ek sien net nie die beloftes van genesing of voorsiening in vervulling gaan nie.

In Lukas sien ons dat Jesus vir Petrus gesê het dat Hy vir hom gebid het: “but I have prayed [especially] for you [Peter], that your faith [and confidence in Me] may not fail.” (Luke 22:32 AMP). Jesus het gebid dat Petrus se geloof hom nié deur die beproewing sal faal nie. Dat hy sterk sal bly staan in sy vertroue in Jesus! Hoe kosbaar is dit nie? Ook in ons beproewing, tree Jesus vir ons in sodat ons geloof en vertroue ons nie sal faal nie!

WAS DAAR ‘N DOEL MET PETRUS SE BEPROEWING? 

Het Jesus ‘n spesifieke plan gehad waarom Petrus hierdeur moes gaan of was dit maar net iets wat moes gebeur? Ons sien in die tweede gedeelte van vers 32 die antwoord hierop: “As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.” (LUKAS 22:31‭-‬32 NLV). 

Petrus se toewyding aan Jesus is tot in sy diepste wese oopgeruk en getoets. Deur die pyn, hartseer en wroeging waardeur hy moes gaan, het God Petrus versterk en opgerig op ‘n manier wat slegs pyn hom kon oprig en voorberei vir sy roeping! Op die dag wat die uitstorting van die Heilige Gees plaasvind, is dit ‘n “nuwe” Petrus wat preek en duisende tot bekering kom. Hy is deur pyn voorberei tot die nuwe bediening waarvoor hy geroep is. God se doel met sy beproewing is bereik! 

IS DAAR ‘N DOEL MET MY EN JOU BEPROEWING? 

Pyn, hetsy fisies of emosioneel, kan só ons lewe oorheers dat ons géén doel kan sien waarom ons daardeur moet gaan nie! Nogtans sê Jakobus 1:2 “My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.” 

BEPROEWING MET ‘N DOEL maak dit net sóveel makliker om vas te byt. Elke goeie sportman/vrou sal vir jou kan vertel van die pyn waardeur hulle moes gaan om sukses te behaal, maar die einddoel was die motivering om vas te byt! Jy sien dalk nie vandag die einddoel in jou beproewing nie, maar hou vas aan die wete dat ons Vader áltyd ‘n doel het met dít waarmee Hy besig is in jou lewe. 

KYK NA JOU PYN VANUIT DIE PERSPEKTIEF VAN DIE EINDDOEL EN MOENIE JOU BLINDSTAAR TEEN DIE PYN WAARIN JY IS NIE! 

God is besig om jou voor te berei vir Sý einddoel. Rom. 8:28 “And we know [with great confidence] that God [who is deeply concerned about us] causes all things to work together [as a plan] for good for those who love God…” Baie belangrik om op te let die laaste deel van die vers: “to those who are called according to His PLAN and PURPOSE.” God gáán die pyn van die beproewing waardeur jy gaan gebruik vir ‘n groter plan! Dit maak nie saak hoe duister of onmoontlik dit tans vir jou lyk nie. In my eie lewe ervaar ek dat my pyn nie soseer is om te lei tot ‘n groot bediening nie, maar dit leer my ongelooflike empatie met mense. Om empaties in ‘n ander se skoene te kan klim en hulle lyding te kan verstaan, is ‘n groot gawe van God. Dit beteken geweldig baie vir mense om te weet dat jy regtig verstaan en omgee oor hoe hulle voel. Ware empatie kan net verkry word deur self deur beproewing te gaan. Jy kan nie in boeke lees hoe om empaties te wees nie. Moet nooit jou rol in ander se lewens onderskat nie. Deur jou empatie kan jy ander geestelik bedien. Dit kan letterlik en geestelik iemand se lewe red! Dit is waarom Jesus moes mens word en self fisies ly op aarde! Deur Sy lyding het ook hy wat God was, moes leer hoe om werklik empaties te kan wees met ons as mens.

Petrus se beproewing was oor ‘n paar dae. Jou beproewing kom dalk al reeds oor weke, maande of selfs jare. Moenie moed opgee nie! Ek leef self met gesondheidsuitdagings wat reeds oor baie jare ‘n groot uitdaging vir my is om moedig te bly en vas te hou aan Jesus se beloftes. Ek kan jou vandag persoonlik bemoedig dat dit wat ek deur pyn geleer het, ek vir niks wil verruil nie. (Ander keer vertel ek meer hieroor.)

GOD WIL EERS IETS ÍN JOU DOEN, VOORDAT HY IETS DEUR JOU GAAN DOEN! 

Dis my gebed vir jou vandag dat jy sal sterk staan in jou beproewing en pyn. Dat jy visie sal behou en vashou aan die feit dat God ‘n hoër doel en roeping met jou lewe het. Jy is besig om deur die leerskool van die lewe te gaan. Jy doen kennis en ervaring op wat geen boeke jou kan leer nie!!! Neem jou beproewing na die kruis en vra God om jou te wys wat die doel is van dit waardeur jy vandag gaan. Jy kry dalk nie vandag die antwoord nie, maar eendag gáán jy terugkyk en wéét dat God alles ten goede laat meewerk. Dan gaan jy dit louter vreugde ag dat jy daardeur moes gaan! 

Mag Jesus jou vandag versterk om vas te staan in jou BEPROEWING. Bly gefokus op Hóm en hou vas aan die wete dat daar wél ‘n doel is hiermee.

Vasbyt en seën!

Anette