In hierdie artikel kyk ons hoe wanpersepsies oor jou siening van God, die kerk en godsdiens ‘n struikelblok kan wees op jou pad van groei.
1. Hoe sien jy God?
Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. 1 Kor 13:12
Die mens se siening en sy verstaan van God is baie beperk. Ons verstaan van God word grootliks gevorm deur die Bybel, maar die verstaan van die Bybel is weer onderworpe aan menslike interpretasie daarvan. Elke kultuur het sy eie wêreldbeskouinge en soos wat ons binne ‘n bepaalde kultuurgroep grootword, sien ons die wêreld deur die oë van daardie kultuurgroep waarbinne ons opgroei.
Dit het ‘n baie belangrike effek op ons sieninge t.o.v. God en het ‘n groot invloed op mense se geestelike belewenis. So vind ons dat volke van Afrika ‘n baie beter begrip en ervaring van die geestelike realm het as ons westerlinge. ‘n Persoon wat in Nigerië woon, sal wanneer hy siek word, dadelik die oorsaak van die siekte as afkomstig van magte van die duisternis beskou. Daarom sien ons by dié kulture dan ook ‘n groter soeke na ‘n oplossing vir so ‘n siekte by óf toordokters of dan by ‘n Christelike bediening wat met krag bedien word. In vergelyking met húl geestelike belewing, ervaar baie Westerlinge ‘n kragtelose Christendom waarin wesens soos Satan, demone, engele en selfs die Heilige Gees, feitlik geen of baie geringe rol speel in ongelowiges en selfs ook baie gelowiges se lewens.
Baie Westerlinge het dan ook die siening dat God maar baie op ‘n afstand is en baie min betrokke is by die dag tot dag gebeure in hul lewens. Sommige mense se siening van God is, dat Hy so op ’n afstand is, dat Hy Homself nie met ons bemoei nie. Baie sal glo dat Satan agter die wreedhede van ‘n Hitler sit, maar nie dat Satan die dryfveer was agter die laaste ramp wat die gesin getref het nie. Sommige westerlinge (Christene) glo selfs dat daar geen Satan of demoniese magte bestaan nie al is die Bybel VOL van verwysings daarna.
‘n Wanvoorstelling oor God is algemeen onder mense wat ernstig te na gekom is – veral mense wat deur ouers of outoriteitsfigure misbruik of mishandel is. Dikwels is daar by sulke mense ook die verwyt teenoor God dat Hy dit toegelaat het en nie die situasie verhoed het nie. Dikwels wil persone wat hulp nodig het, nie die dinge van die verlede onthou of aan herinner word nie. Hoewel daar met groot wysheid, liefde en versigtigheid met herinneringe omgegaan moet word, wys Jesus ons daarop dat die waarheid ons sal vrymaak (Joh. 8:32).
2. Hoe sien jy die kerk en godsdiens?
Die vraag is of ons bereid is om te erken dat daar ander maniere is van kyk na ’n saak as die manier waarop ons grootgeword het en geleer is? Is ons oop vir oortuiging van ander sieninge? Is anders noodwendig verkeerd? Hou ons verbete vas aan die bekende waarmee ons grootgeword het, omdat ons verandering as ’n bedreiging sien?
Wat is dit wat mense onverbiddelik laat vashou aan hoe hul grootgemaak is?
- Baie van ons het grootgeword met die siening van “hoe óns dinge doen is reg, ander is verkeerd”, of dit wat óns doen of glo is reg en enige een wat daarvan verskil, is verkeerd. Die meeste kinders glo maar soos hul ouers glo. As jy dit nie doen nie, word jy dikwels ‘n rebel genoem.
- Baie van ons glo dat, as die meerderheid mense so glo, móét dit mos reg wees. Min mense het die waagmoed om alleen te staan vir ’n saak. Meeste mense maak maar dikwels soos die meerderheid maak en glo soos die meerderheid glo. Ons word groot met die idee dat meerderheid mos nie verkeerd kan wees nie.
- Mense is bang om buite hul grense van geloof (godsdiens) te beweeg. Hulle sien enige nuwe of ander denke as bedreiging vir dit waarin hulle glo. Ek het grootgeword met die idee dat mense van die “happy clappy” kerk heeltemal die pad byster is!
Om iets vanuit ’n ander hoek te bekyk, kan ons siening van ’n saak radikaal verander. ’n Groot stuk insig hieroor het in my hart oopgegaan toe ek vir die eerste maal na hierdie kaart kyk.

Die meeste mense se reaksie wanneer hulle die kaart sien, is dat dit onderstebo is! Wat is bo en wat is onder in die ruimte? Ons is net so geprogrammeer dat noord “bo” is, dat ons amper nie vir ons kan indink dat daar nie ‘n “bo” en “onder” is nie. Ek hoop dit ratel bietjie ook jou brein? Dis nodig dat ons ook soms met ‘n ander perspektief na God, die Woord en ons geestelike belewenisse kyk as wat ons gewoond of grootgemaak is.
3. Die ware weg?
Paulus
’n Man wie se lewensuitkyk radikaal verander het in een oogwink, is sekerlik Saulus. ’n Ontmoeting met Jesus het sy denke en passies ingrypend verander. Hand 9:1-2 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
Hy was ’n man wat geglo het dat sý volk, sý kerk, húl siening van sake en wat húlle doen, was DIE WEG. Hy het sy lewe daaraan gewy om sý sieninge te verdedig, te beskerm en enige een wat nie geglo het soos hy nie, in die tronk te gooi. In retrospek is dit vir ons vandag maklik om te sien dat Paulus verblind was deur die indoktrinasie van die kerk van sy tyd. Die meerderheid van die Joodse volk het soos Paulus gevoel en geglo en daarom het hulle vir Jesus gekruisig. Hulle was nie gereed om buite hulle tradisie te kyk en te besef dat die langverwagte Messias reeds in hulle midde was nie.
Die “WARE” kerk
Vir baie jare het ek geglo dat DIE WEG was om Afrikaans te praat, Nasionaal te stem, en aan die NG Kerk te behoort. Hoekom? Want die meerderheid mense in my dorp het so geglo en die meerderheid kan mos nie verkeerd wees nie? Ek het hierdie idee gehad dat die NG kerk die engiste ware kerk was en enige iemand anders wat aan ander kerke behoort, die pad byster sou wees. Ek vermoed dat dit jare gelede binne ons omgewing meer aanvaar sou wees om met ’n ongelowige te trou, as met iemand van ‘n “sekte” soos die “happy clappies”. Ek het ook geglo dat die NG kerk behoort aan ’n internasionale kerkgroep wat die “REGTE” of “WARE” kerk is en húlle kan tog nie verkeerd wees nie. Groot was my ontnugtering jare later toe ek uitvind dat die daar nie so ’n internasionale “regte” kerk bestaan nie! Let wel dat ek nie hiermee klippe gooi teen die NG Kerk as sulks nie! Ek skets net my agtergrond van hoe my sieninge uitgedaag is. Jy kan dalk daarmee identifiseer. Dit is vir elke persoon nodig om binne sy eie situasie vrae te vra en met ander oë te kyk na wat jy glo!
In my kinderjare was dit “sonde” om op Sondag te swem, fiets te ry, kaart of monopoly te speel. Ons kon ook nie Sondae brei nie, want jy steek met die naald in die Here se oog as jy op ‘n Sondag brei! Hierdie sieninge kom nog van die Ou Testamentiese wette dat jy nie enige “werk” op ‘n Sabbat mag doen nie. Ek kon as kind nooit verstaan waarom hierdie dinge verkeerd kon wees, maar die miskenning van swart en bruin se menswaardigheid was nie verkeerd nie. Hulle was nie toegelaat om saam met ons kerk toe te gaan nie! Wat maak hulle dan anders as ek in God se oë? Hoewel ek as kind nooit my ouers of die kerk se opinie direk wou konfronteer of bevraagteken nie, het ek in my hart aangevoel dat daar iewers iets nie reg is in die sisteem nie. My waagmoed om teen die tradisionele sisteem te rebeleer, het eers later gekom.
Waarheid oor God
Baie kinders is deur hul ouers geleer dat hul Jesus se hartjie seermaak as hul stout is. Ander is weer geleer dat God heeltyd kyk wat hul verkeerd doen en hul sal straf vir hul misstappe. Sieninge soos hierdie beeld God uit of as swakkeling (met Sy seer hartjie) aan die een kant of as veroordelende regter aan die ander kant. Ander glo weer dat Hy alles (goed en sleg) in die lewe bepaal, ongeag ons vryheid van keuse. Hierdie wanpersepsies is alles misleiding van Satan om God se Vaderhart van liefde vir ons as Sy kinders te verdraai. Sommige sien God as veroordelend en dat Hy sal weier om ons te help, of dat Hy kwaad is en ons eerder sal straf.
Ons Afrikanervolk het gedurende die laaste jare baie ontnugtering ervaar. So baie van die dinge wat ons onwrikbaar geglo het reg was, het later geblyk onwaarhede te wees. Vandag is dit na soveel jare, soveel verandering en soveel ontnugtering, moontlik om terug te kyk en te erken dat daar tog ander maniere is van kyk na ’n saak. Anders wees, dink en doen is nie noodwendig verkeerd nie!
Hoewel ek vandag groot waardering vir my gereformeerde wortels en streng opvoeding het, glo ek dat daar ook baie dinge was wat struikelblokke was in my geestelike groei. Daar bestaan nie iets soos ’n volmaakte kerk en volmaakte opvoeding nie. Elke persoon moet met vrymoedigheid na die Vader gaan en uitvind wat in sý/háár opvoeding is nie waarheid nie. Wat is jy geleer wat wanpersepies oor God by jou gevestig het? Wat is leuens oor jou siening van God, jouself en ander mense?
Om die waarheid te soek, beteken nie noodwendig jy moet die kerk waar jy huidiglik aanbid verlaat nie. Dit beteken bloot dat jy sal ondersoek of daar dalk wanpersepsies in jou denke is wat ’n struikelblok in jou geestelike groei kan wees.
4. Glo jy die Woord?
As gelowiges genesing en vryheid in hul lewens wil ontvang, sal hul hulself moet oopstel vir die ware betekenis van die Woord van God wat sê:
- dat Hy in ons elke behoefte wil voorsien,
- ons wíl genees (fisies, geestelik en emosioneel),
- ons vrymaak en vergewe,
- en ‘n intieme persoonlike verhouding met jou wil hê.
Vir Westerlinge wat grootword met die idee dat God ver is en onbetrokke in die detail van hul dag tot dag bestaan, is dit dan ook dikwels nodig dat hulle hul siening van God en Sy Vaderhart vir hulle in oënskou moet neem. Die regte perspektief oor die tipe verhouding wat God met ons as Sy kinders wil hê, mag ‘n radikale verskil in baie mense se lewens maak. As ons nie die regte perspektief het oor Sy liefde vir ons en glo dat Hy vir ons wil sorg nie, sal ons nie Sy Vaderhart kan ervaar nie. Sonder geloof in die integriteit van die Woord en van God se karakter, kan ons niks van Hom ontvang nie.
- Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
Ons sien in die samelewing vandag al hoe meer hoe die Woord van God verdraai, misken, verander en kragteloos gemaak word. Die moment wanneer iemand die integriteit en waarhede van die Woord begin bevraagteken en verander, sien ons al hoe meer ‘n vervlakking van die krag van die Woord, ‘n gebrek aan intimiteit met God en ‘n wandel wat nie spreek van ‘n Geesvervulde lewe nie.
In die afdeling oor PADAANWYSERS, kyk ons na die ware feite oor DIE VADERHART VAN GOD!
Om jou te help om bietjie na te dink oor jou siening oor God en godsdiens, het ek die volgende vraelys vir jou opgestel. Spandeer tyd om deur die vrae te werk en diep te dink oor wat jy glo.
VRAELYS: HOE SIEN JY GOD EN GODSDIENS?
Deur watter instansie of persone is jou begrip van God en godsdiens grootliks gedurende jou kinderjare gevorm of beïnvloed?
Glo jy vandag nog onwrikbaar in dit wat jy geleer is, of het sommige van hierdie dinge geblyk nie waar te wees nie?
Reken jy dat daar dalk ander maniere ook kan wees van kyk na God en godsdiens as hoe jy tot op hede geleer is?
Noem enkele dinge waaroor jy jou sieninge van God en godsdiens verander het?
Noem sieninge oor God of godsdiens waarmee jy grootgeword het, waaroor jy vandag onseker is of dit wel waar is?
Wat is die geestelike dinge waaroor jy ander gelowiges hoor praat, wat verskil van hoe jy grootgeword het?
Oor watter dinge hoor jy mense praat, waaroor jy nog baie onseker voel (doop, wonderwerke, engele, duiwel, demone, ens.)?
Ten opsigte van watter sake of sieninge verskil jou kerk se sieninge of jou eie sieninge van ander Christene wat jy ken?
Hoe laat dit jou voel (onseker, twyfel, bang, kwaad, onvergenoegd …)? Waarom dink jy voel jy so?
Sou jy bereid wees om sekere van jou sieninge oor God of godsdiens te verander indien dit blyk nie die volle waarheid te wees nie. Waarom wel óf waarom nie?
Waaroor sou jy graag meer wou weet/ wou oor uitvind/ voel jy onseker?
Lees vervolgens: Struikelblokke op jou pad: Selfbeeld en Selfvertroue