Padaanwysers: Waarom nog oorlog as Jesus reeds oorwin het?

You are currently viewing Padaanwysers: Waarom nog oorlog as Jesus reeds oorwin het?

Tydens Jesus se bediening op aarde, het ons telke male gesien hoe Hy die werke van die Satan verbreek het. Hy het tydens Sy bediening herhaaldelik grondgebied van Satan teruggeneem deur siekes gesond te maak, demone uit te dryf, sonde te vergewe, die storm stil te maak en dooies opgewek. Jesus het gesê dat Hy gekom het om aan gevangenes vrylating te verkondig en om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur (Luk.4:19).

  • 1 Joh 3:8  Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.

George Eldon Ladd: “… the Kingdom of God, which belongs to the age of the future when Christ comes in glory, has already penetrated This Age. Satan is not yet destroyed as he will be when he is cast into the lake of fire. Satan is not yet bound as he will be during the Millennium of the abyss. Yet God’s Kingdom is active; God is attacking the Kingdom of Satan”.

Volgens Kol 2:15 sien ons dat Jesus oor Satan getriomfeer het toe Hy aan die kruis gesterf het… “ nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het”.

Jesus het Satan reeds aan die kruis oorwin, maar Satan is nog nie volkome van die aarde af verdryf nie. Ons sien oral om ons sy laaste desperate pogings om mense van God weg te rokkel, te steel, dood te maak en te vernietig (Joh. 10:10 NLV). Wanneer ons egter na die einde van die verhaal van die Bybel kyk (in die boek Openbaring), sien ons dat die finale oorwinning en vernietiging van Satan en die demoniese magte wel belowe word. Intussen is daar nog baie slagoffers en vind daar nog baie vernietiging deur Satan en sy magte plaas.

Die era van die geskidenis waarbinne ons ons nou bevind (tussen die kruis en die wederkoms), kan ons probeer verduidelik aan die hand van die Tweede Wêreldoorlog. Die Geallieerde Magte het in Junie 1944 in Normandië geland en hierdie grootskaalse inval word gesien as die begin van die einde van die oorlog. Daarna het hulle geleidelik die Duitsers begin terugdryf en die grondgebied wat deur die hulle beset was, begin terugneem. Die Duitsers het eers in Mei 1945 finaal oorgegee. Hierdie bykans ‘n jaar sedert die grootskaalse inval op D-dag en die finale oorwinning 11 maande later, kan vergelyk word met die era waarin ons ons nou bevind: tussen die kruis en die wederkoms. Ons weet Jesus het reeds alle outoriteit uit die vyand se hande geneem en hom verslaan, maar die grondgebied moet nog finaal teruggeneem word en die FINALE vernietiging moet nog kom.

Neem die grondgebied terug

Hierdie is die roeping van ons as gelowiges! Jesus het aan ons die opdrag gegee om AL die grondgebied wat deur die vyand nog beset word, terug te neem. Sy oorwinning gee aan ons die wettige OUTORITEIT om in Sy Naam die vyand te verdryf. Hy MOET vlug voor die Naam van Jesus.

Ons opdrag is om God se Koninkryk te versprei en te vestig oral waar ons gaan. Ons moet met dieselfde OUTORITEIT en krag optree as wat Jesus aan Sy dissipels gegee het (Luk 9:1-2). Hulle moes dissipels maak en die nuwe dissipels dan weer uitstuur in krag en outoriteit (Mat 28:20). Net soos die dissipels van Jesus, kan ons ook net funksioneer in die krag van die Gees (Hand 1:4-8) om die werke van Jesus te doen.

Ons onkunde oor die vyand (Satan en sy demoniese magte) en ons onvermoë om mense op te lei vir die stryd, maak dat daar só min mense is wat in krag en outoriteit beweeg. Hoe meer ek as gelowige sterf aan myself, kan my karakter getransformeer word tot die karakter van Jesus. Wanneer ”purity” en “humility“ die eienskappe is wat manifesteer in my lewe, kan ek ’n suiwer kanaal wees vir God se heerlikheid en krag. Dit SAL die wêreld rondom my radikaal verander. Dit is noodsaaklik dat elke gelowige ontdek en leer wat sy outoriteit in Christus is en ten volle daarin begin wandel.

Om mense hierin toe te rus, is EFFEKTIEWE DISSIPELSKAP vandag só noodsaaklik!


  • Post category:Padaanwysers