Jes 40:28 Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.
God se droom
God het gedroom van ’n wonderlike skepping. Hy skep die grote heelal en alles wat daarin is en die aarde en alles wat daarop is, deur te spreek en dit was daar. Vanuit Sy droom, dit wat onsigbaar was, het Hy gespreek en uit die onsigbare, het die sigbare te voorskyn gekom.
- Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Hy het ’n wonderlike skepping tot stand gebring, waarvan die aarde slegs ’n klein spikkel in die oneindige heelal is. Hy het die aarde geskep en alles wat daarop is en verklaar dat dit goed is (Gen 1). Hy was tevrede met Sy handewerk.
Die mens na Sý beeld
God het die mens na Sý beeld geskep. Na Sý gelykenis.
- Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Die Skrif verwys dikwels na fisiese voorkoms van God wat dieselfde eienskappe bevat as die van die mens.
- 2 Kron 30:12 Ook was die hand van God in Juda…
- Job 15:30 …, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.
- Ex 6:5 Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;
Hier word gepraat van die uiterlike beeld van God en die mens wat ooreenstem. Die mens se fisiese liggaam is dus dieselfde as God se fisiese liggaam. Diere is nie na God se beeld geskape nie. Hulle beskik nie oor dieselfde fisiese voorkoms as God nie.
God het aan die mens ’n baie besondere opdrag gegee.
- Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Aan die mens was ander vermoëns gegee as bv. aan die diereryk. Ons as mense is aangestel as Sý verteenwoordigers op aarde om namens Hom hier te heers. Dít was God se volmaakte plan. Mense na Sý beeld wat as Sý verteenwoordigers op aarde kon heers en die tuin kon bewerk en bewaak.
- Gen 2:15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.
Geskep vir ‘n liefdesverhouding
God, die bron en skepper van liefde, het uit liefde die mens geskep en was tevrede.
- Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Met trots en liefde kon Hy kyk na Sy handewerk. Sy begeerte was, dat dié mens wat Hy geskep het, Hom ook sou liefhê.
Vryheid van keuse
Hy het aan die mens ’n vryheid van keuses gegee. Ons kan net waarlik liefhê as ons vanuit die vryheid van ons eie keuse liefhet. God het gekies om die mens nie as marionette te maak wat Hy net kon manipuleer nie. Niemand kan gedwing word om iemand anders lief te hê nie. Om God lief te hê, is elke mense se eie vrye keuse. Hy begeer dat elke mens sy/haar hart tot Hom sal wend en dat niemand ongered sal bly nie (Joh. 3:16)
Om op te som sien ons 3 redes waarom God die mens skep:
- Vir ’n liefdesverhouding met Hom
- Om te heers, bewerk en te bewaak
- Om vrugbaar te wees en te vermeerder (Gen 1:28)
Hierdie volmaakte prentjie met volmaakte verhoudings was egter versteur. Wat het dan verkeerd gegaan dat God se droom in die wiele gery word?