Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 2 Kor 5:17
Met wedergeboorte word ons GEESTELIK nuut gebore. Dit vind in een oomblik plaas. Hierna begin die verandering in ons lewens as ’n onophoudelike groeiproses tot die dag wat ons sterf. ‘n Daaglikse BEKERING van ons ou weë vind plaas. (In die artikel Basiese grondbeginsels, word die verskil tussen wedergeboorte en bekering verduidelik.)
Hoewel ‘n persoon geestelik nuut gebore word, sien ons nie altyd by alle gelowiges dat hulle lewens eensklaps verander nie. Mense kom nie altyd dádelik vry van negatiewe denke, depressie, angs, vrees of selfs verslawings nie. Die “ou dinge” gaan nie altyd so GOU en VINNIG verby nie.
Wedergebore kinders van die Here wat voorheen ‘n moeilike lewe gehad het, vind dit soms moeilik om hul verlede bloot net te vergeet. Iemand kan selfs ná hulle wedergeboorte nog sukkel met emosionele probleme van hulle verlede. Dit kan ‘n groot struikelblok in iemand se geestelik groei wees. Met wedergeboorte het ‘n persoon se uitkyk op die toekoms wel verander, maar die invloede en gebeure van die verlede wat hom gevorm het tot en met die oomblik van wedergeboorte, het NIE dadelik eensklaps verander nie. Mense moet aangemoedig en gelei word om tesaam met hulle visie vir ‘n hoopvolle toekoms, genesing vir die verlede te ontvang.
Invloede van die verlede
Elke persoon is deur God uniek geskape. Wie ek vandag is, is die somtotaal van alles wat in my lewe gebeur het en alles waaraan ek al blootgestel was. Reeds in my moederskoot, vanaf my geboorte en gedurende my kinderdae, was ek blootgestel aan stimilu en data wat my totale menswees, my lewensbeskouinge, sieninge, persepsies en paradigmas gevorm en beïnvloed het.
Wanneer ‘n persoon tot wedergeboorte kom, is sy denke nog steeds geprogrammeer, nie net met die goeie van die verlede nie, maar ook met die hartseer, trauma, pyn, wanpersepsies, verkeerde paradigmas en leuens van die verlede. Die verlede is nie in een oomblik uitgewis of nuut gemaak nie. Dit is egter God se hart dat ons geleidelik, deur die proses van heiligmaking, sal vrykom van ons verlede, geestelik tot volwassenheid groei en al hoe meer Sy beeld sal reflekteer.
Effektiewe disspelskap
Effektiewe dissipelskap is nodig om mense te lei, sodat hulle die effek wat hulle verlede op hul lewens het, te verstaan en hul lei om hul denke rondom die verlede te verander. Dit is ‘n lang proses van vorming, verandering, herstel, genesing, bevryding, lering en leiding om te groei tot ‘n geestelike volwassene.
- Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Lees meer oor EFFEKTIEWE DISSIPELSKAP.
Gooi af die bagasie
Ons kan vir ons visualiseer dat dit is asof daar ‘n groot sak of ‘n net aan elke persoon gekoppel is, waarin al die ervaringe van die verlede saamgegooi is. Om in vryheid, vrede en vreugde te kan lewe, is dit nodig dat ons van al die “bagasie” van die verlede ontslae moet raak.

Ons ou natuur is Satan se speelgrond. Hy sal voortdurend vir ons aan ons verlede herinner en ons daarmee probeer pynig. Dit is dus vir die wedergebore kind van God moontlik om nog steeds vasgevang te wees in sondige gewoontes en houdings, disfunksionele verhoudings, diep persoonlike wonde, verslawings en kompulsiewe gedrag.
Selfs al behoort die gees van die gelowige aan God, kan sy ou natuur nog steeds chaos in sy denke veroorsaak. Hierdie bagasie van ons verlede, sal ons bly verlam in ons geestelike groei, totdat ons die Heilige Gees toelaat om aan ons die wonde uit te wys en ons Jesus vra om dit te genees. Dan kan ons finaal met die dinge van die verlede breek. Soms is dit ook nodig dat iemand bevryding moet kry van demoniese magte wat, vanweë iemand se verlede of hulle emosionele wonde, nog ‘n houvas of invloed op die persoon het.
Dit is in God se Vaderhart om mense te vry te maak van hierdie sak vol pyn, hul skoon te was en te klee met Sy nuwe natuur. Hy wil al die gemors uit die sak verwyder, die wonde en letsels genees en mense vry maak van sondige gewoontes en denkpatrone.
Sien in die afdeling oor Padaanwysers hoe God jou wil vry maak van die dinge van die verlede en jou wil begelei op die pad van genesing en herstel.
Lees vervolgens: Struikelblokke op jou pad: Ontkenning van emosionele probleme.