Die betekenis van VERBOND vir jou!

You are currently viewing Die betekenis van VERBOND vir jou!

Om die ware betekenis van Jesus se offer aan die kruis te verstaan, is dit nodig dat  gelowiges ’n duidelike begrip moet hê van die betekenis van ‘n verbond. Kennis oor verbondsbeginsels sal groot waarde toevoeg tot ons verstaan van die beloftes van God vir ons as Sy kinders.

Ons kyk vervolgens na die betekenis van die OU VERBOND en hoe dit vervul is met die NUWE VERBOND.

Die Ou Verbond

1. Agtergrond

God het met Abraham ’n verbond gesluit (Gen. 15) wat as voorbereiding gedien het vir die nuwe verbond wat Hy later met Jesus sou sluit. Die nuwe was nie ’n plaasvervanger vir die oue nie, maar eerder ’n vervulling van die oue.

Die ou verbond was ’n heenwysing of ’n voorskou van die nuwe verbond. Ons sien in die Bybel verskillende soorte verbonde. Na die sondvloed het God bv. ‘n verbond met Noag gesluit dat Hy nie weer ‘n vloed oor die aarde sou stuur nie. Hy het die reënboog as teken van dié verbond gegee (Gen. 8). Daar is ook etlike ander soorte verbonde, maar die een waarop ons gaan fokus is ‘n BLOEDVERBOND.

2. Wat is ’n verbond?

’n Verbond is ’n daad waardeur twee partye in ’n lewenslange versoeningsooreenkoms met mekaar tree. Met die sondeval het ongeregtigheid ’n skeidsmuur tussen God en die mens geword. Om herstel in die verhouding te kon bring, was ’n versoeningsooreenkoms tussen God en die mens nodig.

  • Jes 59:2  maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.

Die versoeningsooreenkoms (nuwe verbond) is deur die ou verbond voorafgegaan, sodat die mense die volle betekenis van die nuwe beter kon verstaan.

Die verband tussen verbond en testament

Die Bybel bestaan uit 2 dele, nl die Ou Testament en die Nuwe Testament. Testament in Latyn is Testamentum. In sy mees korrekte vorm word dit met die woord VERBOND vertaal.

Ons sou dus kon sê dat die Bybel bestaan uit:

  1. Ou Verbond (Ou Testament)
  2. Nuwe Verbond (Nuwe Testament)

Verbond  in Hebreeus is “Berith” en in Grieks: “Diatheke”. Beide die woorde beteken letterlik: “om te sny”. Ons sê dat ‘n bloedverbond “gesny” word (“to cut covenant”), en daar vind bloedvloeiing plaas.

Wat is ‘n  BLOEDVERBOND?
  • Dit is ‘n daad waardeur twee partye in ‘n lewenslange versoeningsooreenkoms met mekaar tree.
  • Dit is die intiemste, langdurigste, heiligste en mees ernstige van alle ooreenkomste op aarde.
  • ‘n Bloedverbond mag nooit verbreek word nie.
  • Verbreking was strafbaar met die dood.

Feitlik elke nasie op aarde is bekend met die gebruik van ‘n bloedverbond. Dit blyk asof dit ‘n ingebore instink by mense is om deur die sny van ‘n bloedverbond in ‘n ooreenkoms met mekaar te gaan. Die gebruik van ‘n verbond is iets wat selfs by die mees primitiewe stamme voorkom.

Bloedverbonde in die Skrif

Regdeur die Ou Testament sien ons hoe verskillende partye in ooreenkoms met mekaar gegaan het deur verbondsluiting.

‘n Baie goeie voorbeeld van ‘n bloedverbond was die ooreenkoms tussen Dawid en Jonatan. Uit liefde vir mekaar het hulle ‘n lewenslange ooreenkoms met mekaar aangegaan. Hiermee het hul beloof om nie net na mekaar om te sien nie, maar ook vir mekaar se nageslagte verantwoordelikheid te aanvaar (1 Sam. 18).

Die sluiting van ‘n bloedverbond het uit 9 stappe bestaan. In die Ou Testamentiese tyd was mense vertroud met die prosedure van verbondsluiting. Ons vind nêrens in die Skrif dat die 9 stappe in volgorde beskryf word nie. Wanneer ons na voorbeelde van verbondsluiting in die Skrif kyk, kan ons ‘n totale prentjie vorm van die verskillende stappe waaruit die prosedure bestaan het.

3. Prosedure van verbondsluiting:

3.1. Omruil van die bo-kleed

Die persone wat ‘n verbond gesluit het, het hul bo-klede omgeruil. ‘n Persoon se bo-kleed verteenwoordig sy karakter en persoonlikheid. Deur jou bo-kleed aan ‘n persoon te gee, het jy eintlik jou lewe as pand of waarborg gegee.

  • 1 Sam 18:4  Daarby trek Jónatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel.

3.2. Omruil van die gordel

‘n Persoon se wapens (dolk, boog en pyle, swaard) is aan sy gordel gedra. Die gordels is omgeruil. Met die uitruiling van die gordels het die partye aan mekaar hul sterkte en ondersteuning gebied. Hul het onderneem om mekaar te beskerm as een aangeval sou word (1 Sam. 20:15).

3.3. Sny die verbond

‘n Dier is in 2 gelyke dele gesny en die 2 dele is teenoor mekaar gestel. Die 2 persone wat die verbond gesny het, het rug teen rug tussen die dele van die dier gestaan. Hulle het dan tussen die dele deurgestap, sodat hulle weer van aangesig tot aangesig voor mekaar te staan gekom het (Lees Gen 15).

Hiermee het hulle verklaar hulle dat hulle geen reg op hulle eie lewens gehad het nie. Hulle het ‘n nuwe lewe van opoffering teenoor mekaar opgeneem. Indien die verbond verbreek sou word, kon hulle soos die diere in 2 gekap word.

3.4. Meng van bloed

Die regter handpalm of polse is gesny, waarna hul mekaar se regterhande vasgevat het om die bloed te vermeng. Ewige trou is aan mekaar gesweer. Die twee partye het bloedbroers geword.

3.5. Omruil van name

Twee partye het  hul name omgeruil. Hiermee het hulle oook hul outoriteit en reputasies uitgeruil. Toe God met Abram ‘n verbond gesluit het, het Hy Abram se naam verander. Hy het Sy eie naam, Jehowa, by die naam van Abram gevoeg en hy het Abraham geword. Ook Abraham se vrou Sara, het Sarah geword. God word in die Ou Testament genoem die God van Abraham, Isak en Jakob.

3.6. Maak ‘n litteken

Hierna is houtskool of as in die wond ingevryf om ‘n permanente litteken te maak. Die litteken was die merk dat daar meer aan ‘n persoon is as wat jy met die eerste oogopslag raaksien.

(Henry Stanley het met 50 stamme in Afrika verbonde gesluit. Die littekens wat hy gedra het, het hom ‘n gevreesde en gerespekteerde man gemaak vir almal wat sy pad gekruis het.)

As bewys dat God ‘n verbond met Abraham gesluit het, het Hy die besnydenis as ‘n teken of seël gegee.

  • Gen 17:10-11 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word–  julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.
  • Rom 4:11  En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word;

3.7. Voorwaardes

Die voorwaardes van die spesifieke verbond en wat dit behels het, is voor getuies uitgelees. Beide partye se bates en laste is voorgehou. Persone se bates (geld, eiendom en besittings) en ook hul laste het nou aan mekaar behoort.

Met Jonatan se sterwe het Dawid, op grond van die verbond, hom ontferm oor Jonatan se seun, Mefiboset (Lees 2 Sam. 9 meer hieroor). Die verlamde Mefiboset het soos ‘n koningskind in die huis van Dawid gewoon.

3.8. Maaltyd

Aan die einde van die verbondsluiting is daar brood gebreek en saam wyn gedrink. Dit het gedien as simbool van hul deelname aan mekaar.

3.9. Gedenksteen

‘n Gedenksteen is opgerig of ‘n boom is geplant. Die bloed van ‘n dier is daaroor gesprinkel. Nadat Abraham  ‘n verbond met Abimeleg gesluit het, het hy ‘n tamarisk geplant (Gen. 21:33). Die twee partye het hiermee gesê dat hulle opregte vriende was – bloedbroers.

Die ou verbond was ’n heenwysing na die nuwe verbond; die beter verbond wat op beter beloftes gegrond is.

  • Heb 8:6  Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.

God wou ‘n beter verbond met die mensdom sluit. Daarvoor het Hy ’n verbondsvennoot nodig gehad. Geen mens op aarde kon as waardige vennoot met God in hierdie verbond tree nie. Om hierdie rede het Hy Jesus gestuur. Jesus moes deur ‘n vrou gebore word om wettiglik die aarde as mens te betree. Sy taak was om, namens die mensdom, met God in ’n verbond te tree. Hy moes ook volmaak en sonder sonde wees om ’n waardige verbondsvennoot van God te kon wees.

Die Nuwe Verbond was dus nie tussen God en die mens nie, maar tussen God en Jesus. Jesus het as mens, namens die mensdom, met God die verbond gesluit. Ons word dus erfgename van die nuwe verbond wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanvaar.

  • Rom 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus…

Vervolgens kyk ons hoe Jesus elkeen van die 9 stappe van verbondsluiting vervul het!

Die Nuwe Verbond

1. Omruil van klede

  • Jesus het ons ongeregtighede soos ‘n besoedelde kleed op Hom geneem.
    • Jes 64:6+10 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel.
  • Jesus het nie sonde gedoen nie, Hy is sonde gemaak, sodat ons geregtigheid kon word!
    • 2 Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
  • Hy het ons beklee met die nuwe mens, nl geregtigheid en heiligheid.
    • Ef 4:24  en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
    • Kol 3:10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
    • Kol 3:12-14  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
    • Gal 3:26-27  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
  • Ons moet ons beklee met Jesus. Ons neem Sý natuur en karakter aan.
    • Rom 13:14  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
    • Ef 4:22-24  dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mensmoet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

2. Omruil van gordels

  • Ons ontvang Sy krag en sterkte.
    • Ef 3:16+17  dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,
  • Ons ontvang die krag van die Heilige Gees.
    • Hand 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,
  • Ons ontvang die volle wapenrusting van God.
    • Ef 6:10  Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

3. Sny die verbond

  • Jesus self was die offerdier/ Lam (Joh. 1:29) wat geoffer is. Hy het ons oortredinge op Hom geneem.
    • Jes 53:4+5  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte–dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
    • Rom 4:25  wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.
    • 1 Pet 2:24  wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
  • Jesus het die verbond namens ons gesny. Hoe maak ons dit ons eie?
    • deur te GLO dat Jesus Christus die enigste Seun van God in ons plek aan die kruis gesterf,
    • deur te GLO dat Hy hiermee versoening tussen God en die mens bewerkstellig het,
    • deur Hom dan aan te neem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker. (Lees Rom 10:9-13)

4. Meng die bloed

  • Deur bloed te meng, word twee lewens een. Hulle neem mekaar se natuur aan. Wanneer ons die offer van Jesus se bloed aanvaar, word ons God se kinders.
    • Rom 8:15-17  Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
    • Gal 4:5-7  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
  • As kinders van God, kan ons nou ons erfenis in Christus ontvang en ons eie maak.

5. Omruil van name

  • Jesus noem ons Sy vriende.
    • Joh 15:14+15  Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
  • God het aan Jesus ‘n Naam bo elke naam gegee.
    • Fil 2:9-11  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
  • Jesus is verhewe bo elke mag en krag.
    • Ef 1:20+21  wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.
  • Ons word aangemoedig om Sy Naam te gebruik.
    • Joh 14:13+14  En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
    • Joh. 15:16 …Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.
    • Kol 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
  • Ons ontvang Sý reputasie en outoriteit. Ons kan dus in Sy Naam storms stilmaak, berge skuif, demone uitdryf, siekes genees, blindes laat sien, dowes laat hoor, engele opdragte gee…
  • Ons word “kinders van God” genoem.
    • Rom 8:15-17 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie,maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

6. Maak ‘n litteken

  • Die besnydenis was die teken van God se verbond met Abraham. In die Nuwe Testament word die besnydenis van die hart dan nou die teken van die verbond.
    • Jer 31:31-34  Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie–my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.
    • (Eseg. 11:19-20, 36:25-28, Heb. 8:8-12, Rom. 2:29)
  • Jesus se verbryselde LIGGAAM is die litteken. Ons identifiseer met Sy kruisiging, Sy dood en Sy opstanding wanneer ons ons met wedergeboorte laat doop.
    • Kol 2:11+12  in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
    • (Rom. 6:6, Gal. 2:20, 5:24, 6:14)
  • Die Heilige Gees is die seël van die verbond. Wanneer ons tot wedergeboorte kom, kom die Heilige Gees van God in ons woon. Ons liggame word die tempel van God en ons lewenswandel dra die tekens van die vrug van die Gees.
    • Ef 1:13  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…
    • Ef 4:30  En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
    • 2 Kor 1:22  wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.

7. Voorwaardes

  • Ons ontvang ‘n BETER verbond met beter BELOFTES.
    • Heb 7:22  in sover het Jesus van ‘n beter verbond borg geword
  • God se verbond met Jesus is deur eedswering bekragtig.
    • Heb 7:28  Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.
  • Ons is volkome GEREGTIG.
    • 2 Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
  • God kom woon in ons. Ons noem Hom Vader.
    • 2 Kor 6:16  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
  • Ons ontvang VRYHEID.
    • Joh 8:36  As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

8. Maaltyd

  • Net voor Jesus gekruisig is het Hy Pasga gevier saam met die dissipels (Luk. 22:7, 15-20). Hy het by hierdie geleentheid die nagmaal ingestel. Dit is die maaltyd wat dui op die sluiting van die nuwe verbond. 
    • Matt 26:28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.
    • 1 Kor 11:24-25 en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

 [Lees meer oor die Verbondsmaal]

9. Gedenksteen

Die kruis is die gedenkpaal waaroor die bloed van Jesus uitgegiet was. Dit is die simbool dat God ‘n VERBOND met Jesus gesluit het. Vandag nog dien die leë kruis as simbool dat Jesus Homself as offer gegee het.

Jesus het namens die mensdom hierdie verbond met God gesluit. Van die hemel se kant af is dit afgehandel. Ons het niks gedoen om dit te verdien nie. Ons hoef en kan ook niks méér doen om dit te verdien nie.

Ons enigste aandeel in díe verbond, is om dit te aanvaar om die voordele daarvan te kan ervaar. Deur aanspraak te maak op die verbond wat rééds vir ons gesluit is, kan ons in die volle voordeel van ons erfenis wandel.