My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. Ps 139:15
Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. Jer 1:5
Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Jer 29:11
God het die mens kunstig geformeer as kroon van Sy skepping. Hy het in elke mens ander gawes van talente, vermoëns, intellek en potensiaal geplaas. Hierdie gawes kan slegs ontsluit word en groei, as ‘n persoon die keuse uitoefen om dit te laat ontwikkel. Die een plek in die wêreld waar ons die meeste potensiaal aantref, is die begraafplaas. Daar lê soveel mense se potensiaal en drome wat nooit tot verwesenliking gekom het nie.
Deur die mond van alle profete hoor ons vandag dat die eindtye naby is. Van oral is daar die oproepe om die bruid voor te berei en gereed te wees vir die koms van die bruidegom. My vraag aan jou vandag is: IS JY GEREED VIR DIE WEDERKOMS OF DAT VANDAG DALK DIE LAASTE DAG VAN JOU LEWE KAN WEES? Het jy reeds jou volle potensiaal bereik en gedoen wat jy voel God jou geroep het om te doen op aarde? Is jy vandag die persoon wat jy graag wil wees en hoe jy graag onthou wil word?
In die opvolgende artikels gaan ons kyk na dinge wat mense terughou om hul volle potensiaal te bereik en moontlike dinge wat hulle verhoed om geestelik te kan groei. Alhoewel Jesus al meer as 2000 jaar gelede gesterf het, is die verwoesting van die vyand in mense se lewens vandag nog só groot. Te veel mense worstel met dinge wat hulle daarvan weerhou om hulle volle potensiaal te bereik.
God se opdrag aan my persoonlik:
Jes 62:10 Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op die grootpad, gooi die klippe weg, steek ‘n banier op oor die volke!
Jes 40:1-5 Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
Ek wil graag my pad van soeke met jou deel. Mag iets van wat jy in die volgende artikels lees, dalk vir jou help om ‘n struikelblok op jou pad te oorkom.
Lees: Struikelblokke op jou pad: Hoe sien jy God?