Waar is U Here?

You are currently viewing Waar is U Here?
Wat nou nog?

Hoeveel keer die afgelope jaar het jy net al jou kop geskud en gesê: “Wat kan nóg gebeur hierdie jaar?!” 2020 het vir baie mense dinge op hulle pad gebring wat mens nie in jou wildste drome sou kon dink moontlik is nie! 

Rondom ons was daar die afgelope jaar al sóveel hartseer, teleurstellings en pyn. Dikwels vra mens jouself die vraag of dít die eindtye is waarvan Jesus vertel het? Kan dinge nóg erger of nóg slegter gaan in hierdie wêreld? 

Ek is ‘n baie empatiese persoon, so ek beleef ook ander se pyn baie intens! Hulle vrae en teleurstelling word ook mý vrae en teleurstelling. Wanneer ander pyn ervaar, wil ek help verstaan, wil ek hoop of antwoorde gee. Saam met baie wat swaarkry en ook vir my eie pyn en beproewing, vra ek die “hoekoms”, “hoe lank nog”, “waar is God”, “hoekom gryp Hy nie net bonatuurlik in nie”, “wanneer kom die uitkoms”, “het God my vergeet”, is dít hoe liefde lyk”, “is my geloof nie groot genoeg nie”, “is dit die moeite werd om God te dien”…?

Ek gaan vanoggend na Vader met al my vrae. Ek voel bietjie soos Job wat met die Here worstel met soveel vrae oor hoekom daar soveel swaarkry rondom ons is… 

Ek kry net ÉÉN antwoord…
AANBIDDING (WORSHIP)! 

In Engels gebruik ons die woord “WORSHIP” wanneer ons iets of iemand aanbid, maar ons as gelowiges gebruik ook die woord “WORSHIP” wanneer ons LOFPRYSING aan God doen. Ek praat dus hier van aanbidding deur lofprysing. 

Die woord AANBIDDING (“worship”) in Hebreeus is SHACHAH. Dié woord beteken om voor God neer te val, neer te buig, in nederigheid plat voor Hom te lê, Hom te aanbid, Hom te vereer, Sy lof te besing

Om iets te aanbid, beteken om jou liefde en bewondering te betoon. Aanbidding is ‘n ekstreme vorm van liefde betoon en ‘n onbetwyfelbare toewyding. Wanneer ons God AANBID, is dit met ‘n liefde en toewyding wat nie vrae vra nie en Hom nie in twyfel trek nie! 

Wat gebeur wanneer ons met hierdie tipe van absolute toewyding midde-in die krisisse en chaos van hierdie gevalle wêreld en te midde van al ons vrae, God aanbid? 
  1. My fokus verskuif van myself en my probleme na God en wie Hy is!
    • Die Here is groot! Hy is waardig om geprys te word. Sy grootheid is onmeetbaar. PS 145:3 NLV
    • Want die Here is groot, waardig om geprys te word! Bo al die gode moet Hy geëer word. 1 KRON 16:25 NLV
  2. Ek word daaraan herinner dat NIKS my van die liefde van Christus kan skei nie!!!
    • Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry? ROM 8:26‭, ‬35 
  3. Iets verskuif in die geestesrealm. Die magte van duisternis wat voel of dit my wil oorweldig, word verdryf deur die engelmagte rondom my. 
    • “Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan.” PS 91:11 NLV 
  4. Al kry ek nie antwoord op my vrae nie, voel ek veilig in die skuilplek van die Allerhoogste en onder die vleuels van die Almagtige.
    • Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.” PS 91:1‭-‬2 NLV
  5. Ek word herinner dat die Gees vir ons intree by God, wanneer ons nie weet hoe om te bid nie.
    • Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.” ROM 8:26 NLV
  6. My gemoed lig en ek kyk na die wêreld met Sý perspektief.
    • Luister, Here, en wees my genadig. Help my tog, Here! U het my droefheid verander in ’n dans van vreugde. U het my rouklere weggeneem en my met vreugde geklee. Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie. Here my God, ek sal U dank vir altyd. PS 30:11‭-‬13 NLV

My liewe vriend, wat is dit wat vandag jou laat wegdraai van God af en Hóm bevraagteken? Wat is dit wat jou weerhou daarvan om Sy liefde vir jou te ervaar? Wat is dit wat jou vandag platslaan en jy voel of jy nie weet hoe of waarheen vorentoe nie? 

Wil jy nie in absolute toewyding, aanbidding en lofprysing voor die Almagtige jouself vandag neerbuig nie? Nie om antwoorde te kry nie. Nie om wonderwerke af te bid nie. Bloot net om Hom te aanbid as die Almagtige! Ek glo en vertrou met my hele hart dat Hy jou sál ontmoet, jou sál vertroos, jou sál versterk en jou sál vul met nuwe hoop en krag. 

Sit vandag nog vir jou lofprysingsmusiek aan. Verkieslik met oorfone op jou ore sodat dit diep en ongestoord jou wese kan vul. Die Almagtige wag om jou te ontmoet en jou te seën met Sy heilige teenwoordigheid. 

Aan Hóm al die lof en eer! 

Anette