WAT IS WAARHEID…???
Wanneer mens al heelwat somers agter die blad het en iemand sou skielik vra wat het bv in 1998 in jou lewe uitgestaan, sal mens ‘n rukkie dit moet bedink, wonder hoe oud was jy toe en waar het jy jou bevind. Dit sal waarskynlik nie waar wees van die jaar 2020 nie!!!
Dis daardie één jaar wat vir ons almal sal uitstaan as ‘n jaar wat ons sekerlik nooit sal vergeet nie. Ek stap in die straat af en sê dikwels vir Chris, dat as jy ‘n jaar gelede vir my gesê het dat elke liewe Suid-Afrikaner (selfs die bedelaars) met ‘n masker aan op straat gaan wees, sou ek seker my geld daarop verwed het dat jy nie al jou varkies op hok het nie!
Elke huisgesin, elke persoon het hierdie jaar anders beleef. Persoonlik het ek van die stilte, rustigheid, gedwonge tuisbly en eenvoudiger leefstyl gehou. Wanneer ons egter kyk na die skade, hartseer en teleurstellings wat met die pandemie saamgekom het, sou ek my persoonlike voordeel enige dag prysgee in ruil vir die finansiële skade van geliefdes, die hartseer van die dood van bekendes en die emosionele impak van isolasie, inperking en teleurstellings.
Hoe is ons nie vanjaar oorspoel met menings, teensprydige opinies, vals nuus en ‘n menigte van teorieë en denkrigtings nie?! Wie moet jy glo? Wat is waarheid?
Midde al hierdie chaos is daar net een ding wat vir my uitstaan as vas en waar. Jesus se woorde oor die eindtyd is waar! (Matt 24) Hierdie dinge wat ons beleef, is lank reeds deur Jesus self geprofeteer. Dit is nie ‘n verrassing vir ons nie. Hoewel ons nie kon raai dat ons baie hiervan in ons leeftyd reeds sou beleef nie, moet ons die tekens sien dat die ondenkbare wel besig is om rondom ons te gebeur.
Vul dit ons met vrees of vreugde? Dít hang af van waar jou fokus vir die toekoms is. Wanneer ons fokus op hiérdie kortstondige lewe op aarde is, vul dit ons beslis met báie onsekerheid en vrees.
Wanneer ons egter leef met ‘n ewigheidsperspektief sal die gebeure in die wêreld en die toekoms van hierdie wêreld nie vir ons ‘n vreesaanjaende ervaring wees nie. My en jou lewe hier op aarde is uiters kortstondig. Beswaarlik ‘n spikkel gemeet aan die ewigheid. Die Woord herinner ons voortdurend dat ons slegs tydelike bewoners van hierdie aarde is. Ons burgerskap is in die hemel volgens Fil 3:20. Ons leef hier soos ambassadeurs in ‘n land wat nie ons s’n is nie. Óns plek, ons tuiste is in die hemel saam met ons Vader. Daarom moet ons gedagtes en ons fokus, terwyl ons nog hier is, gerig wees op die ewigheidsperspektief en nié op die agteruitgang van dié wêreld soos wat ons dit huidiglik sien nie.
Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Kolossense 3:1-4 NLV
Dis my gebed dat hiérdie jou troos, hoop en anker vir 2021 sal wees. Mag die standvastigheid van die Woord van God die ENIGSTE WAARHEID wees waaraan jy in 2021 sal vashou. Met ‘n ewigheidsperspektief kan ons die aanslae en uitdagings wat die nuwe jaar ons bring, oorleef. Dan kan ons vreugde vind, vrede hê en mense met hoop wees vir dít wat die eindtye nóg mag oplewer.
Vrede vir jou
Anette