In die vorige artikel het ons gekyk hoe jou siening van God en godsdiens jou geestelike groei kan beïnvloed. Vervolgens kyk ons na hoe jou siening van jouself ‘n struikelblok op jou pad kan wees.
1. Hoe sien jy jouself?
Neem ‘n paar minute om eerlik oor die volgende vrae te dink. Skryf dit neer en gaan dan aan die einde van die artikel weer terug na jou antwoorde en kyk hoe jou siening van jouself moontlik jou geestelike groei kan beïnvloed.
- Beskryf in ’n paar woorde jou siening oor jouself.
- Noem ten minste 10 dinge oor jou fisiese voorkoms waarvan jy hou.
- Noem ten minste 10 dinge oor jou persoonlikheid waarvan jy hou.
- Beskryf in ’n paar woorde hoe jy dink ander mense jou sien.
- Is daar ’n verskil tussen hoe ander jou sien en hoe jy jouself sien?
- Wie/ wat bepaal jou selfbeeld?
- Watter dinge het ’n positiewe invloed op jou selfbeeld?
- Watter dinge het ’n negatiewe invloed op jou selfbeeld?
In beide sekulêre en geestelike skrywe, sien ons dikwels hoe ‘n goeie selfbeeld, selfwaarde, selfliefde of selfaanvaarding baie hoog geag word in die mens se soeke na geluk en sukses. As ons kyk na wat die Woord van God sê oor die siening van onsself en wat die wêreld sê, kry ons baie verwarrende boodskappe oor hoe ons onsself moet sien. Aan die een kant kry ons die boodskap van die wêreld dat die kern van ons probleme lê in ’n swak selfbeeld, terwyl die Woord sê ons moet sterf aan onsself. Hoe verstaan ons dit?
Die dinge wat met mense in hul lewens gebeur, dit wat oor hul gespreek is en aan hul gedoen is, maak dat baie mense twyfel in hulself, ’n swak siening van hulself het, min selfvertroue het of dat daar soms selfhaat by mense teenwoordig kan wees.
a. Belangrikheid van selfbeeld
Ons selfbeeld is die basis waarvandaan ons na alle ander dinge kyk. Dit bepaal of ons dapper optree of skaam ineenkrimp, of ons inisiatief sal neem of ander se pogings kritiseer. Ons denke beïnvloed ons optrede, ons gesondheid en ook ons houding teenoor ander mense. ’n Verkeerde siening van onsself, maak ons kwesbaar vir aanslae van Satan.
b. Die selfkonsep bestaan basies uit ‘n persoon se:
- selfbeeld = hoe hy homself sien
- selfagting (self-esteem) = hoe hy voel oor homself
- selfwaarde = hoeveel waarde heg hy aan homself
Die somtotaal hiervan sal bepaal hoeveel of hoe goed die persoon homself aanvaar.
c. Die verskil tussen selfbeeld en selfvertroue:
Selfbeeld, selfagting of selfwaarde handel nie soseer oor die persoon se vermoëns nie, maar antwoord die vraag: “Wat is ek werd?” Jy meet, analiseer of evauleer jou eie waarde. Selfvertroue is ’n gevoel van veiligheid, sekuriteit of sekerheid in myself. Dit antwoord die vraag: “Wat kan ek doen?”
Innerlike konflik word veroorsaak as ons die twee verwar. As ek my selfbeeld bou rondom my vermoëns en potensiaal, sal dit ‘n groot slag wees vir my selfbeeld as ek die dag faal of ‘n fout maak (jy verloor die kompetisie of wedstryd, jou besigheid faal…). Dit is juis wanneer ek fouteer, wat my selfbeeld getoets word. ‘n Lae selfvertroue onderdruk ons selfbeeld. ‘n Lae selfbeeld beperk verder ons selfvertroue. ‘n Bose kringloop ontstaan wat ons vasvang in ‘n afwaartse spiraal en dit kan ons laat val in ‘n put van depressie en wanhoop.
In die sekulêre wêreld word mense met behulp van verskillende tegnieke gelei om herstel te kry van hul swak selfbeeld en tegnieke word aangewend om hul te leer om positief oor hulself te wees. ’n Positiewe siening en geloof in jouself sal dan lei tot ’n suksesvolle lewe.
d. Die Christen en selfbeeld
Wat maak ons as gelowiges hiermee? ’n Negatiewe siening van onsself is verseker nie God se hart vir ons nie. Baie Christene worstel in ’n mindere of meerdere mate met ’n swak selfbeeld en min selfvertroue wat kom a.g.v. verskillende invloede of gebeure uit hulle verlede.
Hierdie gebeure maak dat ons negatief oor onsself kan voel en soms min selfvertroue het. Dit lei dan daartoe dat ons onsuksesvol deur God gebruik kan word om Sy koninkryk te vestig, want ons onsekerhede hou ons terug. Dit lei ook dikwels tot ernstige wanpersepsies oor hoe God ons sien. Mense voel onwaardig dat God húlle effektief of kragtig kan gebruik. Hul dink altyd die roeping is net vir ander mense wat beter toegerus is. Die waarheid in die Skrif is egter dat God nooit mense geroep het wat uitstekend toegerus was vir die werk nie. Hy het juis gefokus op mense wat nie op hul eie krag kon staatmaak nie (Moses, Gideon, Dawid, Petrus en ander dissipels).
Dit is noodsaaklik vir elke gelowige wat êrens in sy lewe skade opgedoen het, t.o.v. sy selfbeeld en selfvertroue, om aandag te gee aan hierdie wonde en genesing hiervoor te ontvang. Die Satan sal altyd ons lae selfbeeld en selfvertroue teen ons gebruik om ons magteloos te maak in die Koninkrykswerk.
e. Kinders en selfbeeld
’n Ontwikkeling van ‘n gesonde selfkonsep by kinders, is tot ’n groot mate in ons as ouers se hande en dit is een sekerlik een van die grootste geskenke wat ons ons kinders kan gee. Ouers wat hulself nie op ’n Goddelike wyse liefhet nie, sal nie in staat wees om by hul kinders ’n gesonde selfkonsep te ontwikkel nie. Ons kan nie gee wat ons nie het nie. Sonder ’n gesonde selfkonsep, kan ons ons eie grootste vyand word.
2. Wat is die dinge wat ons ‘n swak selfbeeld gee?
a. Fisiese voorkoms
Baie mense het ’n selfbeeld wat gebaseer is op hul fisiese voorkoms. ’n Fokus op hul swak eienskappe: te vet, te maer, swak vel, skewe tande, ens. kan vir baie mense kortwiek in hul vermoë om hulself te handhaaf. Ek het persoonlik vir baie jare geworstel met ‘n swak selfbeeld as gevolg van gebrekkige ortodonsie as kind. As ek gelag het, het ek altyd my hand voor my mond gehou dat mense nie my tande kon sien nie. Ek het met my hele hart my tande gehaat! Altyd gedink as ek eendag groot is, sal die eerste ding wat ek ooit gaan doen, wees om my tande te laat trek! Vandag is my skewe, te groot tande deel van wie ek is en ek is so dankbaar vir die mooiste gesondste skewe tande! Soveel só dat ek in al die jare nie myself sover kon kry om ortodonsie te laat doen nie! 🙂
i. Fisiese voorkoms: ondergeskik aan karakter
Hoewel fisiese eienskappe ’n eerste indruk van ’n persoon by mense opwek, word hierdie eienskappe baie gou ondergeskik aan die persoon se persoonlikheidseienskappe. Sommige mense kan fisies baie aantreklik wees, maar hul persoonlikheid kan van so ’n aard wees, dat hul onaangenaam is om mee oor die weg te kom. Baie aantreklike mense (veral vroue) ervaar soms erge jaloesie van ander wat nie so aantreklik is nie. Dit kan lei tot eensaamheid en verwerping.
ii. Fisiese voorkoms: die wêreld se standaarde
Die wêreld stel aan ons die standaard van hoe ’n aantreklik mens moet lyk. Ek vra dikwels wanneer ek op die strand sit of in ’n winkelsentrum na verbygangers kyk, waarom daar dan so min “mooi” mense op aarde is? “Mooi” volgens die standaard wat in die media aan ons voorgehou word! Is dit nie tyd dat ons begin om met God se oë na mekaar te kyk nie? Die “lelikste” man of vrou, volgens die media se standaarde, kan vir ons die mooiste mens denkbaar word wanneer die lig en heerlikheid van God deur hulle skyn. Selfs die misvormste of verminkste mensie kan hierdie heerlikheid van God reflekteer en engelmooi word.
iii. Fisiese voorkoms: alles ten goede
Die hartseer gevolge van die sondeval het gemaak dat die vyand op verskillende maniere in mense se lewens kom steel en vernietiging saai. Ons sien in die wêreld erge misvormendhede en gebrekke wat toegeskryf kan word aan medikasie, dwelms, alkoholmisbruik, ongelukke, rampe of oorloë. Ons sien ook hoe die sondeval gelei het tot genetiese swakhede, afwykings en misvorming. Dit was egter nie God se droom vir die mens nie.
Die vernietiging wat die sondeval in baie mense se fisiese voorkoms veroorsaak het, is baie hartseer, maar ek glo dat God ALLES (selfs gebreke) ten goede kan laat meewerk. (Rom. 8:28) Op ’n vraag aan Jesus oor wie se skuld dit was dat ’n man blind gebore was, was Jesus se antwoord:
- Joh 9:2-3 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
Ongeag ons voorkoms, kan die teenwoordigheid van God in ons lewens só helder skyn, dat God se werke in ons geopenbaar kan word. Dit is juis my en jou aanvaarding van ons eie tekortkominge, wat ander vry maak van hulle swak selfbeeld.
iv. Fisiese voorkoms: God se standaard vir voorkoms
God het nie ’n universele standaard vir uiterlike voorkoms nie. Die Skrif leer aan ons dat Hy glad nie geïnteresseerd is in uiterlike voorkoms nie.
- 1 Sam 16:7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
- Pro 31:30 Charm and grace are deceptive, and beauty is vain [because it is not lasting], but a woman who reverently and worshipfully fears the Lord, she shall be praised!
- Mat 23:27 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.
Ons het geen reg om God se skeppingswerk te bevraagteken of te kritiseer nie:
- Jes 45:9 Wee hom wat met sy Formeerder twis–‘n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!
God het wel ‘n universele innerlike idee van hoe Hy wil hê Sy kinders moet lyk:
- Rom 8:29 For those whom He foreknew [of whom He was aware and loved beforehand], He also destined from the beginning [foreordaining them] to be molded into the image of His Son [and share inwardly His likeness], that He might become the firstborn among many brethren.
- Col 3:10 And have clothed yourselves with the new [spiritual self], which is [ever in the process of being] renewed and remolded into [fuller and more perfect knowledge upon] knowledge after the image (the likeness) of Him Who created it. [Gen. 1:26.]
Wanneer ons self nog minderwaardig is oor ons eie voorkoms, sal ons krities wees en jaloesie teenoor ander ervaar wat ons dink mooier, sterker, ryker of slimmer as ons is. ‘n Persoon (hoe mooi of lelik ook al volgens wêreldse standaarde) wat genesing ervaar het oor sy eie voorkoms, sal deur God se oë na ánder mense kan kyk en net die mooi in hulle raaksien. So ’n persoon sal dan ook ophou om homself voortdurend met ander te vergelyk.
b. Dinge wat oor ons gesê is:
Soms is mense se selfbeeld geformuleer rondom dinge wat ander van hulle gesê het in die verlede (veral as kinders) of huidiglik nog vir hulle sê. Solank ons siening van onsself gebaseer is op ander se siening van ons, stel ons onsself bloot aan baie hartseer. Veral kinders is uiters wreed met kwetsende woorde en kan mekaar totaal verkleineer met hul woorde. Persone in gesagsposisies (veral onderwysers) moet uiters versigtig wees met hulle woorde om nie kinders se selfbeeld af te breek nie.
- Watter invloed het die dinge wat ouers, maats of onderwysers van jou gesê het nog op jou siening van jouself?
- Tot hoe ’n mate word jou selfwaarde bepaal deur ander se siening van jou?
Die standaard waarmee ons waarde deur die wêreld bepaal word is:
- BEAUTY & BRAWN (spierkrag)
- BRAINS & ABILITY
- MONEY & POSSESSIONS
- POWER
As ons selfwaarde op enige van hierdie dinge gegrond is, kan ons maklik vir God kwaad wees omdat Hy ons nie mooier, slimmer, maerder of sterker gemaak het nie. Die waarheid is egter dat niks van hierdie dinge enige ewigheidswaarde het nie. Dit is nie wat ander van ons dink wat saak maak nie. Dit is ook nie hoe ons onsself sien wat saak maak nie. Dit is slegs God se aanvaarding van ons wat tel!!!
- 2 Cor 10:12 Not that we [have the audacity to] venture to class or [even to] compare ourselves with some who exalt and furnish testimonials for themselves! However, when they measure themselves with themselves and compare themselves with one another, they are without understanding and behave unwisely.
- 2 Cor 10:17-18 However, let him who boasts and glories boast and glory in the Lord. For [it is] not [the man] who praises and commends himself who is approved and accepted, but [it is the person] whom the Lord accredits and commends.
c. Gebrekkige opleiding
Soms het mense ’n negatiewe selfbeeld op grond van ’n beperkte formele opleiding. Jesus self het egter die vissermanne, en nie die geleerdes nie, uitverkies as Sy dissipels. Jare se formele studies is nie die sleutel tot wysheid en sukses nie.
- 1 Kor 3:18-21 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang; en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is. Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;
Kennis van die Woord van God is die beste kennis wat enige persoon kan besit: William Lyon Phelps, het gesê: “…I thoroughly believe in a university education for both men and women; but I believe a knowledge of the Bible without a college education is more valuable than a college course without the Bible”
d. Tragiese omstandighede
‘n Lae selfbeeld kan wees a.g.v. tragiese gebeure in ’n persoon se verlede. ‘n Persoon wat buite die eg gebore is of a.g.v. verkragting, sou tipies aan selfveragting kon ly. Dit is egter moontlik om hierdie wonde te oorkom en genesing daarvoor te ontvang. Dit is ook ‘n groot uitdaging vir iemand wat deur trauma vermink is, om sy waarde as mens nie te koppel aan sy fisiese voorkoms nie.
e. Fisiese of emosionele mishandeling
Mishandeling het ernstige implikasies op die selfbeeld. Verbale mishandeling is net so ernstig soos fisiese mishandeling. ’n Vrou wat herhaaldelik deur haar man vertel is dat sy lelik, vet, dom, lui of ontoereikend is, sal verseker probleme met haar selfbeeld ontwikkel. Ek kry in my werk dikwels te doen met die mooiste mense, maar hulle selfbeeld is totaal vernietig deur mense wat hulle vertel het dat hulle nie goed genoeg is nie. Te veel kritiek laat mense (veral kinders) baie twyfel in hulself. Slagoffers van hierdie vorms van mishandeling moet begelei word tot genesing deur hulself te sien soos God hulle sien.
f. Sonde
Dade wat mense in die verlede (voor hul God ontmoet het) gedoen het, of wat in ’n oomblik van swakheid gedoen is, kan ’n ernstige struikelblok wees in hul siening van hulself t.o.v. hul verhouding met God. Selfvergifnis speel hier ’n uiters belangrike rol. Dawid sê dat sy gebeente uitgeteer het na sy morele verval met Bátseba.
- Psa 32:3-5 When I kept silence [before I confessed], my bones wasted away through my groaning all the day long. For day and night Your hand [of displeasure] was heavy upon me; my moisture was turned into the drought of summer. I acknowledged my sin to You, and my iniquity I did not hide. I said, I will confess my transgressions to the Lord [continually unfolding the past till all is told]–then You [instantly] forgave me the guilt and iniquity of my sin. Selah [pause, and calmly think of that]
3. Gevolge van lae selfbeeld:
- Die denke wat konstant in ’n persoon se gedagtes heers, sal reflekteer in sy optrede. Wanneer ‘n persoon voortdurend min van homself dink, sal dit in sy optrede blyk.
- Pro 23:7 For as he thinks in his heart, so is he.
- Lae selfbeeld kan selfs lei tot afhanklikheid van verslawende middels soos alkohol, dwelms of pille.
- Iemand met ’n lae selfbeeld kan honger vir enige vorm van erkenning. Dit kan ‘n persoon die slagoffer maak van ‘n behoefte om van die teenoorgestelde geslag seksuele aanvaarding of erkenning te soek. Sodoende kan ’n persoon van een verhouding na ’n ander rondval en ook maklik ’n prooi word van seksuele immoraliteit. Dit lei dan weer tot ’n lae selfwaarde wat ’n bose kringloop vir die persoon tot gevolg het.
- ’n Lae selfwaarde kan lei tot ’n baie kritiese gees. Die persoon met ’n lae selfbeeld probeer homself verhef deur ander te verkleineer, óf hy probeer homself kunsmatig verhef bo ander mense. Let op in gesprekke met mense, die persoon wat nie ander kan komplimenteer nie en voortdurend neerhalend van ander praat, is die mense wat self ly aan ‘n swak selfbeeld.
- ’n Persoon met ’n lae selfbeeld kan geneig wees om homself te omring met wêreldse dinge (materialisme) of ‘n baie hoë waarde hê aan materiële besittings. Daar is niks verkeerd daarmee om finansieel welaf te wees nie. Die probleem is wanneer ons besittings, of die gebrek daaraan, ons selfwaarde bepaal.
- Luk 12:15 En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
- ’n Lae selfwaarde beïnvloed ons verhouding met God. Iemand sal glo dat God hom nie kan liefhê, of dat Sy offer, Sy beloftes en gawes net vir ander mense bedoel is. Hulle glo dat hulle dit nie waardig is nie.
Lees in PADAANWYSERS hoe jy ‘n GESONDE SELFBEELD KAN ONTWIKKEL!
Vervolgens kyk ons na die volgende STRUIKELBLOK op ons pad van groei: NUUT MET WEDERGEBOORTE: OOMBLIKLIK OF PROSES?