Waarom moes die gordyn skeur?

You are currently viewing Waarom moes die gordyn skeur?

Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars. Matt 27:50-51

In die Ou Testament sien ons hoe God selektief net met sekere mense (soos Noag, Abraham), profete (soos Elia, Elisa), rigters (soos Gideon, Simson) en konings (soos Saul, Dawid, Salomo) gepraat het. Sy Gees was selektief net op sekere persone uitgestort. 

Voor Jesus se geboorte, het God deur die Hoëpriester met die volk Israel gepraat. Slegs die Hoëpriester kon by die tabernakel en later die tempel, deur die GORDYN of VOORHANGSEL tot in die Allerheiligste (waar God se teenwoordigheid manifesteer het) ingaan. Dit was nie vir die gewone mense, of selfs eens die gewone priesters of Leviete beskore om die Allerheiligste te betree nie. 

Wat het dan sedertdien verander dat élke persoon vandag met vrymoedigheid direk tot God kan nader, Hom kan aanroep, met Hom kommunikeer en dat Hy met óns direk kommunikeer? 

Met Jesus se koms na die aarde, verskuif God Sy gemanifesteerde teenwoordigheid na Sy Seun. Hy word genoem, Immanuel, wat beteken “GOD MET ONS!” Filippus vra vir Jesus: “Wys ons die Vader.” Jesus antwoord dat Hy al so lank met hulle is en hy vra steeds dat Hy die Vader aan hulle moet wys. Hý was die gemanifesteerde teenwoordigheid van God op aarde. Die dissipels is hartseer dat Hy moes weggaan. Jesus belowe egter iets beter! Die uitstorting van die Heilige Gees op élke mens op aarde! Dié Gees wat die mens self lei, leer en wysheid gee! (Joh.14:8-14)

Die moment toe Jesus sterf, is daar ‘n baie merkwaardige gebeurtenis in die Tempel. Die VOORHANGSEL (gordyn) wat  tussen die Heiligdom en die Allerheiligste gehang het, SKEUR VAN BO TOT ONDER. (Matt. 27:50) Waarom is dit merkwaardig? Hierdie gordyn was na wat gereken word ongeveer 20 meter hoog, 10 meter wyd en ‘n hele paar sentimeter dik. Menslik onmoontlik om te skeur. Net God self kon dit bonatuurlik skeur as simbool van ‘n nuwe bedeling wat kom. 

Wat sê God hiermee vandag vir my en jou? GOD KOM DIE SKEIDING TUSSEN HOM EN DIE MENS FINAAL WEGSKEUR! Die belofte van Jesus dat die Raadgewer, die GEES van GOD, die Heilige Gees uitgestort sal word nadat Hy opgevaar het, kon nou in vervulling gaan. Daar is dus nou géén skeiding meer tussen God en die mens nie. Élke persoon wat die offer van Jesus Christus aanvaar, sál die Heilige Gees ontvang. Dié Gees sal IN ons woon en ons lei, leer, onderrig, wysheid gee en ons insig gee in die geesteswêreld. Jy WORD die tempel van God waar Sy gemanifesteerde teenwoordigheid woon!

Kan daar vandag nog ‘n skeiding, ‘n voorhangsel of gordyn tussen jou en God wees?

Slegs ongeloof en ongehoorsaamheid kan skeiding tussen ons en God bring. Deur ons sonde van ongeloof of ongehoorsaamheid te bely en tot Hom uit te roep, word daardie skeiding summier weggeskeur en kan ons met vrymoedigheid weer die Allerheiligste van Sy troonkamer betree. Géén verdienste of offer wat jy bring, kan jou voldoende reinig om voor God se troon te kom nie. Slegs die bloed van Jesus Christus maak ons heilig sodat ons met vrymoedigheid tot Hom kan nader. Die Gees van God staan gereed om ons vandag hiermee te help en ons te lei en leer om met volle vrymoedigheid na God toe te gaan. 

Het jy vandag ‘n behoefte om met vrymoedigheid dalk vir die eerste keer of dalk by herhaling God se aangesig te soek? Hy wag reeds vir jou! Daar is níks wat meer skeiding tussen jou en God maak nie! Die voorhangsel is finaal geskeur! Nader tot Sy troon net soos jy is en Hy sal tot jou nader deur Sy Heilige Gees wat reeds by jou is. 

Ons nader nou Paasfees en wat dit vanjaar uniek maak, is dat die hele wêreld tot stilstand geruk is deur die Korona virus. Kan daar ‘n beter tyd vir jou as mens wees as om juis nou die stilte te benut en Sy aangesig te soek? Moenie dat skuldgevoel of enigiets van jou verlede jou verder beroof van intimiteit met God nie. Die voorhangsel tussen jou en Hom is reeds geskeur. Hy wag vir jou! 

Kontak my gerus as jy leiding soek hiermee of as jy wil hê ek moet saam met jou bid. 

Seënwense

Anette