Vertrou jy God regtig?

You are currently viewing Vertrou jy God regtig?

Vertrou op die Here! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die Here! Psalm 27:14 NLV
Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg.Psalm 37:5 NLV

Ons sê dikwels ons vertrou God, maar ons lewe, woorde en dade wys die teenoorgestelde! Dis maklik om God vir klein dingetjies in die lewe te vertrou. As Hy ‘n deurbraak gee, is dit wonderlik en ons kan Hom prys vir die uitkoms. Maar wat as dit by die groot dinge in die lewe kom? Die dinge wat ‘n kwessie van lewe en dood is…? Vertrou jy Hom waarlik onwrikbaar?

Daardie uitslag van die dokters wat dui op ‘n lewensbedreigende siekte of iets wat ons normale daaglikse lewe ernstig gaan benadeel… (Ek dink spesifiek aan soveel dierbare vriende wat tans die pad stap…)

Wanneer daar geen vooruitsig van inkomste is nie, die ekonomie swak is en die wêreld steier onder die ekonomiese impak van ‘n Korona virus...

Wanneer die reën nie kom nie en alles waarvoor jy jare lank gewerk het, voor jou oë verdroog en tot niet gaan…

Wanneer jou land steier onder die impak van korrupsie, staatskaping en onbevoegdheid en dit lyk of die skade net nooit weer herstel gaan word nie…

Wanneer jy diep besorg is oor jou toekoms, pensioen en die toekoms van jou nageslag… 

Wanneer jou land se mense afgemaai word deur gewetenlose moordenaars wat roof en moor…

Wanneer jou mense een een die land verlaat en jy wonder of jy die Here reg hoor dat jý moet bly… 

Wanneer jou kind verkeerde lewenskeuses maak en jou hart breek as jy sien hoe hy/sy op verkeerde paaie wandel wat lei na vernietiging en verderf…

Wanneer vrees en paniek mense oorval vir die bedreiging van ‘n Korona virus… 

Vertrou jy Hom regtig? Is ons harte onverdeeld op Hóm gerig om ons uit te red, te genees, te beskerm, te voorsien? In goeie tye is dit so maklik om ons hande na bo te hef en Sý Naam groot te maak. Om te vertel van Sy goedheid en guns.

Wanneer die onsekerheid, bekommernis, twyfel en pyn soos ‘n donker wolk oor ons toesak, dan word ons tot die uiterste getoets of ons Hom regtig ten volle vertrou om met ons te wees en of Hy ook hiérdie keer ons gebede sal beantwoord en ons uitred.

Ek maak vandag ‘n verklaring dat die Here waarlik LEEF! Dat die God van Abraham, Isak en Jakob, die Verbondsgod onveranderlik is. Hy is die een wat vandag vir my en jou sê: VERTROU MÝ! Kom ons skep moed en verklaar dat die Here ons God, ‘n betroubare Vader is wat sorg vir Sy kinders. Wat ons nie ‘n klip gee as ons brood vra nie!

Vandag vertrou ek Hom om as Verbondsgod na my, Sy kind, om te sien en in elke behoefte te voorsien! Ek verklaar soos Esra, ek het moed geskep, want ek het besef die hand van die Here my God is oor my! (Esra 7:28).

Liefde in Jesus 

Anette