#AllMenAreTrash! Regtig??!!

You are currently viewing #AllMenAreTrash! Regtig??!!

Een ding waaraan ek ‘n kleintjie dood het, is veralgemening! Daar is die afgelope tyd so ‘n geweldige aanslag teen mans op soveel terreine. Soos wat daar ‘n kleiner minderheid in ons land is wat chaos veroorsaak, terwyl die meerderheid net in liefde wil saamleef en streef na ‘n beter toekoms vir ons nageslag, so glo ek is die mans wat geweld pleeg, verkrag, mishandel, vroue minag en sonder respek hanteer ook in die minderheid!

Dis op my hart vandag om eer en hulde te bring aan soveel manne, leiers en pappas wat met opregtheid en liefde hulle gesinne (en in die samelewing) lei, versorg en koester!

Ek verheug my oor ‘n man wat my met liefde en respek hanteer en met my gesels soos met ‘n gelyke vennoot, my opinie respekteer en ook vir my erkenning gee as sy meerdere op vele terreine.

Ek eer my man (en soveel ander manne wat ek ken) wat erns maak met sy rol om die gesin te versorg, lang ure werk om te voorsien, met geduld na kinders luister en leiding gee, ferm kan optree en die kinders dissiplineer (toe hul nog klein was), meer kalm en sterker as ek bly in krisisse, my te alle tye op die hande dra en laat voel of ek die mooiste en wonderlikste vrou in die wêreld is, wat die Here se aangesig soek in alles wat hy doen en soggens bid terwyl almal in die huis nog slaap!!!

‘n Man wat gehoorsaam is aan God se opdrag om sy vrou so lief te hê soos sy eie liggaam en bereid is om sy lewe vir sy vrou af te lê – soos wat Christus vir Sý bruid gedoen het!

So ‘n man kan ek (volgens God se opdrag in Efesiërs) RESPEKTEER! Hy mág maar die hoof van ons huis wees! Ek sal met die grootste plesier my ondergeskik stel aan sy liefde, koestering en versorging!

Ek WEET dis nie net my man wat so ‘n wonderlike hart het en ‘n wonderlike voorbeeld stel nie, so ek bring hulde aan AL die wonderlike manne daar buite vir julle pragtige harte en wonderlike voorbeeld en leiding in ons samelewing!

MAG VADER JULLE SEËN! MAG HY JULLE IN EER HERSTEL. MAG HY JULLE BEKRAGTIG OM IN JULLE ROEPING TE STAP! MAG HY JULLE VOORSPOEDIG MAAK!