In die hele Skrif sien ons dat daar ’n patroon is om iets vanaf die bekende of natuurlike wêreld te neem om ‘n geestelike beginsel te verduidelik. Jesus het dwarsdeur Sy bediening in gelykenisse met die mense gepraat. Hy het eers ’n voorbeeld aan die mense gegee wat aan hulle bekend is en daarna die geestelike betekenis daarvan verduidelik. In hierdie konteks moet ons ook die hele Ou Testament sien. Die hele Ou Testament is vir ons ‘n heenwysing na die nuwe. As ons só na die Ou Testament kyk, kry dit vir ons ‘n totale nuwe betekenis.
Na die sondeval
Baie groot verval van die mensdom, was ‘n kenmerk van die eerste jare na die sondeval. Dit het God berou dat Hy die mens gemaak het.
- Gen 6:5-8 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.
God kon nie teruggaan op Sy woord en die mensdom in sy totaliteit uitwis nie. Hy het die aarde verdelg met alles wat daarop is, maar slegs vir Noag en sy huis gered. Die mensdom moes steeds voortbestaan. Die sondeval het soos ‘n skeidsmuur tussen God en die mens geword. Die vroegste verhale vertel hoe die mens al hoe meer boos en afvallig van God geword het.
God was gereed om Sy Seun as Verlosser te stuur om Sy verhouding met die mens te herstel, maar voordat Hy die Verlosser kon stuur, moes Hy eers Homself aan die mensdom kom bekendstel. Adam en Eva het God geken, maar die nageslagte het hom nie geken soos wat húlle Hom geken het nie. Dit was nodig dat die mense voorberei moes word op wié Jesus sou wees en wáárom Sy offer nodig was. God se plan was om ’n volk voor te berei waaruit die Verlosser gebore kon word. Aan hierdie volk sou Hy op ’n praktiese manier kom verduidelik wat die verlossing impliseer en wat dit alles behels het.
God soek ’n verbondsvennoot
Dit was God se skeppingsplan dat die mens op aarde in die fisiese wêreld sou heers en outoriteit uitoefen. Nadat die plan deur Satan gedwarsboom was, wou God dit herstel. God moes in ’n vennootskap met ’n mens, weer wettiglik toegang kry tot die fisiese wêreld. God was soekend na ’n man wat as vennoot saam met Hom in ’n verbond kon ingaan.
- 2 Kron 16:9 want die HERE–sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is;
Op ’n dag het God ’n man met die naam van Abram genader. Hy het gewoon in die heidense stad Ur. God het met die volgende voorstel na hom gekom:
- Gen 12:1-3 En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Abram het God se voorstel aanvaar en begin om Hom te gehoorsaam. God het weer aan hom verskyn en gesê:
- Gen 12:7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
God was besig om Homself en ook Sy plan vir herstel stap vir stap aan Abram te openbaar. Hy was ook besig om Abram se vertroue te wen.
Verbond met Abram
Abram het al God se beloftes aanvaar, maar hy het ’n versekering gesoek dat God dit wel sou doen. Op ’n dag het hy dan die vraag gevra:
- Gen 15:8 En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?
Abram was nou gereed om ’n bloedverbond met die Skepper van die heelal te sluit.
- Gen 15:9-11 En Hy antwoord hom: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ’n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.
Abram was bekend met die prosedure van verbondsluiting en hy het dadelik geweet dat God ’n verbond met hom wou sluit. Hy het sonder om te huiwer, alles gereed gekry soos wat God hom beveel het. God het ’n diepe slaap oor Abram laat kom, sodat hy geen fisiese aandeel in die ritueel kon hê nie. God het persoonlik hierdie verbond met hom kom sluit.
- Gen 15:17+18 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit…
Die mens is feilbaar en nie in staat om ‘n verbond met God te hou nie. Toe God later die nuwe verbond kom sluit het, het Hy dit met ’n waardige verbondsvennoot gedoen. Sy eie Seun, wat sonder sonde was.
God het Abram se naam na Abraham verander en gesê dat Hy hom die vader van menigte van nasies sou maak (Gen 17:1-5). Hierdie was die begin van die uitverkore volk, Israel. God se verbondsvolk. Van al die nasies op die aarde, het God híerdie volk uitgekies waaruit die Verlosser van die mensdom gebore sou word. God het ’n ewige verbintenis met die mens en sy nageslag gesluit om hulle God, Voorsiener, Beskermer en hulle vennoot te wees.
Die sondeval was die gevolg van die mens se eie keuse om Satan te gehoorsaam. Dit het veroorsaak dat die mens op ’n pad van selfvernietiging was. Abraham het namens die mensdom die keuse gemaak om God weer die reg te gee om vir hulle ’n God te wees. Deur Abraham se keuse, het God wettiglik toegang verkry om in te gryp in die verlossing van die mens.
Toets van gehoorsaamheid
- Gen 22:1 Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.
God het aan Abraham belowe dat hy ‘n seun sou hê en die nageslag uit dié seun so groot soos die sterre aan die hemel en die sand aan die see sou wees. Abraham en sy vrou Sarah was reeds baie oud en hulle seun Isak se geboorte was ’n wonderwerk. God het van Abraham ’n bykans onmoontlike offer verwag deur te vra dat hy sy enigste seun aan God moes offer! Hy het besef dat die kanse om, menslik gesproke, nóg ’n kind te hê, feitlik nul was.
Abraham het nie een oomblik gehuiwer om God te gehoorsaam nie. HOEKOM NIE? Hy het die volle implikasie van ’n verbond geken en verstaan!
- God het belowe dat daar vir Abraham ’n nageslag deur Isak sou kom (Gen 21:12) en op hierdie stadium het Isak nog nie kinders gehad nie. Abraham het ’n vaste vertroue gehad dat God nie sou lieg nie en sou doen wat Hy gesê het. Daar sál ‘n nageslag kom!
- Abraham het geweet dat God verplig was om Sy verbondsbeloftes na te kom. Daarom het hy geglo dat, al sou hy Isak offer, God hom weer uit die dood sou opwek.
- Heb 11:18 aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word–want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek;
- Die belangrikste implikasie van die verbond, is die volgende:
As God van Abraham sý kosbaarste besitting kon vra, naamlik sy eniggebore seun, dan was God ook verplig om Sý eniggebore Seun te gee.
Met Abraham se gehoorsaamheid aan God, het hy namens die mensdom aan God toestemming gegee om Sý Seun as offerlam te gee. God kon nou wettiglik die mensdom wat van Hom gesteel was, terugkoop. Adam het die toets van gehoorsaamheid gefaal deur die vrug te eet, maar die gehoorsaamheid van Abraham het God die reg gegee om die verkeerde keuse van Adam reg te stel. Jesus het die finale toets van gehoorsaamheid geslaag deur as offerlam Sy lewe aan die kruis te gee en die mensdom terug te koop.
Die Here sal voorsien
- Gen 22:12-14 En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ‘n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.
Abraham sou Isak offer op die berg Moria buite die ou stad Salem (later Jerusalem). Dit was feitlik dieselfde plek waar God Sý Seun, Jesus, ongeveer 2000 jaar later geoffer het. God het aan Abraham ’n ram gegee om in die plek van Isak te offer. God het hier die belangrike beginsel van ’n plaasvervangende offer gevestig. Deur die res van die Ou Testament was diere geoffer as plaasvervanger vir die mense se sonde. Hierdie metode van diereoffers het voortgeduur totdat die Lam (Jesus) eenmaal as ’n volmaakte offer gekruisig was.
Die verbond van God met Abraham het as basis en grondslag vir die nuwe verbond gedien. Op die dag wat hy Isak moes offer, het Abraham geweet dat die dag wat God Sy Seun sou offer, sou kom. In die Nuwe Testament word telkens daarna verwys.
- Joh 8:56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my (Jesus) dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. (Ook: Gal 3:7-9;11:13-16)
Lees verder: Voorbereiding tot herstel (Deel 2 – Israel)