Israel in Egipte
God het met Abraham en sy nageslag ’n verbond gesluit. God se beloftes en seën was dus van geslag tot geslag oorgedra. Groot hongersnood het egter die land Kanaän, waar Jakob (kleinseun van Abraham en seun van Isak) en sy seuns gewoon het, getref. Jakob en sy seuns beland uiteindelik vanweë die hongersnood in Egipte. DIe Here se verbond met die familie het nie beteken dat hulle altyd net voorspoed sou ervaar nie, maar dat God te midde van hulle probleme vir hulle sou voorsien en sorg. So het Hy reeds jare vooruit vir Josef (wat deur sy broers verkoop was) in Egipte só posisioneer dat hy nou in staat was om na Jakob en sy broers om te sien in hulle uur van nood.
Tydens hulle verblyf in Egipte, het die nageslag van Abraham, Isak en Jakob vermeerder en ’n magtige volk geword. Die volk Israel was vir 430 jaar in Egipte. Tydens God se verbondsluiting met Abraham, het Hy aan hom gesê dat die volk vir 400 jaar verdruk sou word.
- Gen 15:13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.
Die eerste jare na hul aankoms in Egipte, het Josef nog geleef en omgesien na sy famlie. Na sy sterwe het daar ’n nuwe Farao gekom wat nie vir Josef geken het nie. Hy het bedreig gevoel deur die menigte Israeliete wat in hul land gewoon het. Hy het hulle onderdruk en as slawe gebruik. Dit was die begin van die 400 jaar van verdrukking vir Israeliete in Egipte. God het gesê dat hul vir 400 jaar onderdruk sal word, terwyl hulle in totaal vir 430 jaar in Egipte was.
Beroep jou op die verbond
Die volk was reeds in ‘n verbond met God vanweë Sy verbond met Abraham. Hulle roep in hulle nood tot God uit. Wanneer hulle hulpgeroep tot God kom, word Hy aan Sy beloftes met Abraham herinner en is Hy “genoodsaak” om die beloftes van die verbond in vervulling te laat gaan en Sy volk uit te red.
- Ex 2:23+24 En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.
Wat beteken dit vir ons vandag?
Jesus het namens die mensdom ‘n Nuwe Verbond met God gesluit wat die Ou Verbond met Abraham en sy nageslag kom vervang het. Ons is die erfgename van die Nuwe verbond met nuwe beloftes. Ons moet kennis hê van wat die beloftes behels en God wil hê dat ons Hom daaraan moet herinner.
- Jes 62:6+7 … o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes–moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!
Israel bevry
God het Moses op wonderbaarlike wyse geroep om Sy volk uit slawerny uit Egipte te bevry. Na ‘n wonderbaarlike uittog uit Egipte, kom die volk by die berg Sinai. Hier vind ‘n ontmoeting tussen God en Sy volk plaas. God was steeds besig om op ’n praktiese manier Sy volk voor te berei vir die koms van die Verlosser. Vanuit Sy groot liefde vir Sy volk, het Hy aan hulle wette gegee wat hulle moes onderhou (Ex 20). Dit was in Sy Vaderhart om Sy kinders riglyne te gee waarvolgens hulle moes lewe. Die wette of riglyne het as beskerming vir hulle gedien. Dit het die volk in bewaring gehou totdat die nuwe bedeling in Christus sou kom.
- Gal 3:23-24 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
Saam met die wet, het die besef van sonde gekom.
- Rom 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
- Rom 7:7 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
Die wet het nie net sondebesef gebring nie, maar ook straf. Daar sou tog geen sin in wees om die wet te bring as daar nie ook straf is as die wet oortree word nie. As ons die wet in Ex. 20 lees, moet ons nie by hoofstuk 20 ophou nie, maar daarmee saam ook die volgende paar hoofstukke. Die hele kern van die evangelie lê vir ons in hierdie gedeelte van Exodus opgesluit.
God het aan die een kant die wet gegee, maar dadelik daarmee saam die manier waarop hul vergifnis vir hul oortreding van die wet kon kry. God se plan van versoening was prakties gedemonstreer deur die tabernakel, die instelling van die priesterorde, die slag van die lam en die bring van offers.
Tabernakel
God het aan Moses in die fynste detail opdrag gegee hoe om die tabernakel te bou. Die tabernakel was die plek waar die volk offers kon bring. Hier kon hulle vergifnis van hul sonde ontvang en was hulle met God versoen. In die hele Skrif sien ons dat God met die mens gepraat het met praktiese beelde, prentjies of voorbeelde uit die alledaagse lewe. Die tabernakel was ‘n praktiese demonstrasie van God se verlossingsplan wat Hy uiteindelik aan die mens wou kom voorstel. Die hele tabernakel was ‘n heenwysing na Jesus self. Hierdie aanhaling oor die tabernakel som dit op:
“There is no portion of Scripture richer in meaning, or more perfect in it’s teaching of the plan of redemption, than this divinely designed building.”
Heb. 8 verduidelik vir ons dat die tabernakel ‘n heenwysing was na die nuwe verbond met beter beloftes wat sou kom. God het vir Abraham ‘n ram gegee om in die plek van Isak te offer. Dit is dieselfde beginsel wat God by die tabernakel vir die volk gee het. Waar ‘n wet is, is sonde en waar sonde is, is daar straf. In plaas daarvan om die volk te straf vir elke wet wat hulle oortree het, kon hulle offers na die tabernakel bring om vergifnis van hulle sonde te ontvang.
Heenwysing na Jesus
In ’n studie oor die tabernakel, blyk dit dat elke item in die tabernakel ’n heenwysing was na Jesus en Sy verlossingswerk. As voorbeeld:
- Daar is een ingang = Joh. 10:9 Ek is die deur, as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.
- Die brandofferaltaar met die offerdier = Joh. 1:29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: DAAR is die Lam van God wat die sonde van die wereld wegneem.
- Die kandelaar = Joh 9:5 So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.
- Die waskom = Joh 4:14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
- Die toonbroodtafel = Joh 6:35 En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.
- Die reukofferaltaar = Ef 5:2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur. Joh 14:14 As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
- Die versoendeksel en verbondsark = 1 Joh 2:2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
- Die hoëpriester = Jesus word die ewige Hoëpriester wat vir ons by God intree. Heb 4:14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
Reiniging deur bloed
Wanneer iemand ‘n offer by die tabernakel wou bring as versoening vir sy sonde, moes hy ‘n dier bring wat sonder enige gebrek was. Die dier was geslag en op die brandofferaltaar geoffer. Die bloed van die dier het vergifnis vir sonde bewerkstellig.
Waarom lam en diereoffers? Waarom moes die dier sterf?
Ons vind die antwoord in:
- Heb 9:22 En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
Net soos wat ons in die wêreld natuurwette het, soos bv. gravitasie, is daar in die geestelike realm ook geestelike wette. Een so ‘n wet wat deur God bepaal is, is dat reiniging van sonde deur bloed moes geskied. Dit is die rede waarom diereoffers nodig was, want deur die bloed het die reiniging gekom. Die dier is as plaasvervanger vir die mens (die sondaar) geoffer, sodat dit nie vir die mens nodig was om te sterf vir sy sonde nie.
Waarom offer ons dan nie meer vandag diere nie?
Ons sê dat God in die Ou Testament met praktiese voorbeelde Sy verlossingsplan wou verduidelik. Hierdie diereoffers was net ‘n heenwysing na die Lam (vlekloos en sonder sonde) wat God wou stuur om eenmalig vir alle sonde te sterf. God het die offer van Jesus aanvaar en daarom is dit nie meer nodig om enige verdere offers te bring nie. Níks kan toegevoeg word tot die volmaakte werk wat Jesus reeds gedoen het nie.
Jesus word die Lam
Die nag voordat Israel uit Egipte uitgelei is, moes hul die Paaslam slag en eet.
- Ex 12:5 Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie.
- Ex 12:11 En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die HERE is dit.
Hierdie lam is die heenwysing na Jesus as die offerlam wat vir die mensdom geoffer sou word. Honderde jare later was Johannes die Doper by die Jordaanrivier besig om mense te doop. Toe hy sien dat Jesus na hom aangeloop kom, het hy gesê:
- Joh 1:29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
Jesus was die volmaakte offer wat net eenmaal moes sterf vir álle sonde wat al gedoen is en álles wat nog gedoen sou word. Ook vir my en jou sonde van gister vandag en môre is reeds volledig betaal.
- Heb 10:10-14 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.
Volkome versoening
- Jesus se bloed reinig ons van alle sonde. Is daar dan enige sonde waarvoor Hy nie gesterf het nie?
- 1 Joh 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
- Nee, Hy het vir alle sonde gesterf!!!
- Vir wie se sonde het Hy gesterf?
- 1 Joh 2:2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
- Sy offer is vir die sonde van die totale mensdom. Die wêreld! Hy het gesterf vir alle sonde wat tot op die dag van die kruisiging gedoen is en ook alles wat nog gedoen sou word tot en met die wederkoms van Christus.
- Is daar iemand vir wie se sonde Hy nie gesterf het nie?
- Nee, Hy het vir alle sonde van alle mense gesterf!
- Alle mense is vrygespreek, maar gaan almal hierdie vryspraak ervaar?
- Nee, slegs hulle wat die offer (Jesus) aanvaar.
[Sien artikel: Jy is geklee met geregtigheid.]
Sonde: ’n afgehandelde saak
God kan nie sonde aanskou nie. Dit is die rede waarom Jesus aan die kruis uitroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Hy was deur God verlaat, sodat ek en jy nooit deur God verlaat sal word of gestraf word vir sonde nie. Jesus het die VOLLE PRYS vir ons sonde gedra!
Wat God aanbetref, is sonde ‘n afgehandelde saak.
- Heb 10:17-19 en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie. Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.
Dit beteken egter nie dat almal hemel toe gaan nie. Daar is nog een oordeel aan die einde.
- Joh 16:8-9 en as Hy (Heilige Gees) kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;
Hierdie verse verduidelik wat is sonde. Dit is om nie in die Seun van God te glo nie. Aan die einde, met die wederkoms, is dit die een sonde wat geoordeel sal word. Hulle wat nie die offer aanvaar het nie, sal nie die ewige lewe in die hemel ervaar nie.
Ter opsomming
Die hele Ou Testament vertel ons die geskiedenis van die volk Israel. Dit is die verhaal van God se voorbereiding vir die koms van die Verlosser. Die Hebreeuse volk het by God gepleit en gesoebat om hulle van die koning van Egipte te bevry. God het hulle hulpgeroep gehoor en onthou van die verbond:
- Ex. 2:24 God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ‘n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.
God het met Jesus ‘n Nuwe Verbond gesluit. Ons is vandag erfgename van hierdie beter verbond met beter beloftes:
- Heb 8:6 Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.
Dit is nodig dat ons tot kennis kom van wat die nuwe verbond behels en hoe ons die beloftes van dié verbond ons eie kan maak. Die kruis het ‘n totale nuwe bedeling vir die mensdom gebring het. As ons dit nie so insien nie, maak ons die dood en offer van Jesus minderwaardig.
Die ou bedeling (Ou Verbond/Testament) was slegs ‘n heenwysing na die nuwe bedeling (Nuwe Verbond/Testament), sodat ons die nuwe bedeling beter kan verstaan.