“Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Matt 6:19-21 NLV
Ek vra myself die vraag: Wat is skatte in die hemel? Nogal opmerklik hoe diep ek moet dink om die vraag te antwoord…
Dit is baie maklik om die vraag, “Wat is aardse skatte?” te beantwoord. Matteus 6 praat van ons bekommernis oor wat ons eet, drink of aantrek. Voeg daarby: waar ons bly, waarmee ons ry, hoe ons huise binne lyk… Alles dinge wat deur mot en roes verniel kan word. Alles wat deur inbrekers by ons gesteel kan word. Daaroor het ons Suid-Afrikaners genoeg bekommernis! Elke dag is ‘n uitdaging om te keer dat jy beroof word.
Terug by die vraag: Wat is skatte in die hemel?
Die Woord van God
Ek wonder soms, wat sou ek gryp as my huis aan die brand is? Wat is daardie een ding wat jy sou gryp, as jy besef jy gaan al jou besittings verloor? Ek onthou hoe ek as kind altyd gesê het: “Ek sal my Bybel gryp.” Dit het die edel ding gevoel om te sê. Vandag sal ek, as ek baie eerlik moet wees, beslis my selfoon gryp! (Danksy tegnologie het ek in elk geval sóveel vertalings van die Bybel op my foon!) 🙂
Hoekom het dit reg gevoel om te sê, ek sal my Bybel gryp?
- Dawid sê in Ps 119:162 Ek verheug my in u woord soos iemand wat ’n groot skat ontdek.
Kan daar ‘n groter skat vir ons as gelowiges wees as die Woord van God? My huis is vól van Bybels – verskillende tale, verskillende Afrikaanse vertalings, nuwes, oues van oupas… Om ‘n Bybel in ons hand te hê, is ‘n skat ja, maar ons grootste skat is om dít wat daarin stáán te ontdek, te glo, jou eie te maak, dit te leef! Wat maak ons met hierdie skat? Ontdek en ontgin ons dit, of water ons dit af tot ‘n kragtelose verhaal wat nie meer van toepassing is op ons moderne samelewing nie? Die grootste skat wat ons kan versamel en wat geen mot en roes kan verniel nie, is om ons te verheug in die standvastige, betroubare Woord van God. Die enigste dief wat dit kan steel, is die “vader van leuens”, die vyand wat God se Woord verdraai en ons met dwaalleringe lei om die Woord van God in twyfel te trek. Máák tyd om die skatte in die Woord te versamel en jou eie te maak!
Die skat van wysheid en insig
Ongetwyfeld is dié grootste skat wat ons kan versamel: wysheid en insig!
- Roep na insig. Roep hardop vir begrip. Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ’n versteekte skat. Dan sal jy weet wat dit beteken om respek te hê vir die Here. Jy sal leer om God te ken. Spreuke 2:3-5 NLV
Kan daar ‘n groter skat op aarde wees, as om met wysheid en insig geklee te wees? Ons hoef nie slim te wees, geleerdheid te hê, mooi te wees of ryk te wees nie. Daar is niks mooier op aarde as ‘n persoon wat met wysheid en insig geklee is nie!
Spreuke sê, roep na insig en begrip, soek dit, jaag dit ná! Hierdie is ons kosbaarste skat! Dan sal ons leer om God intiem te ken!
- Die Here is hoog verhewe. Hy woon in die hemel. Hy sal Jerusalem met reg en geregtigheid vul. Lewenslank is Hy jou vaste fondament, ’n ryke voorraad van redding, wysheid en kennis. As jy die Here dien, sal jy al hierdie skatte kry. JES 33:5-6 NLV
Die skat van uitdeel
- Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel. Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang. 1 Tim 6:17-19 NLV
Hoeveel duideliker kan die Woord wees?! Deel uit en doen goed aan ander! Dít is die grootste en kosbaarste skat wat ons kan opbou! Wat ek weggee, is ‘n veilige skat in die hemel!
- “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.” Luk 12:33-34 NLV
- Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.” Matt 19:21 NLV
Hoeveel moet ons gee? DIT WAT GOD OP JOU HART LÊ OM TE GEE! Sonder reëls en wette. Die hoeveel en wát, kom vanuit ‘n intieme verhouding met Vader. HOOR en DOEN!
Ek ontvang vanoggend hierdie kosbare video oor GEE. Wees nie net vrygewig met jou GOED nie, maar ook jou VERGIFNIS!