Hy is nie dood nie! My God LEEF!!!

You are currently viewing Hy is nie dood nie! My God LEEF!!!

Ek het onlangs ‘n merkwaardige droom gehad wat ek graag wil deel. Miskien is daar iemand wat vandag dié woorde nodig het.

Ek droom ons is met vakansie en besoek ‘n vreemde kerk. Daargekom, hoor ons die kerk het baie groot finansiële probleme. Hulle het God vertrou vir uitkoms, maar niks het gebeur nie. Die kerk moet nou sluit.

Die gemeente het na ‘n lang debat tot die besef gekom dat God dood is en dié diens is toe ‘n begrafnis vir God wat dood is. Ek het met skok waargeneem wat daar gebeur, maar toe die leraar ‘n seuntjie vra om die begrafnisbrief te lees (‘n geel kaartjie wat hy self geskryf het) kon ek dit nie langer verduur nie.

Ek het uit die kerk gestorm, buite op ‘n groot stuk groen gras gaan staan en uit my volle wese, so hard soos ek kon, geskree: MY GOD LEEF! MY GOD LEEF! MY GOD LEEF!

Ek het herhaaldelik uitgeroep tot ek sien die mense begin uit die kerk uitkom. Ek het nader gestap en een-een, soos die mense uitkom, elkeen aan die arm geneem en gesê: MY GOD LEEF!

Die een vrou het geantwoord: Nogal JOU God? My antwoord was: Jesus het vir MY gesterf, daarom IS Hy mý God! As jy Jesus aanvaar, is Hy ook jou God!

Ek het wakker geword met die wonderlikste besef in my gees: MY GOD LEEF!!! Dit was asof ek fisies kon voel hoe ek in my droom dit uitgeskreeu het. Ek het net geweet, dit maak nie saak wat ek op aarde ervaar nie, MY GOD LEEF!

Jy beleef dalk vandag iets wat maak dat jy wonder of God regtig bestaan en of Hy nie dalk dood is nie. Ek wil jou in jou oë kyk en met my hele wees vir jou sê ONS GOD LEEF! Jesus het vir JOU gesterf en Hy is vandag ook jou GOD! Hy is bewus van jou omstandighede en hoor elke smeekgebed. Mag jy vandag ervaar JOU GOD LEEF!!!


Lees ook: Struikelblokke op jou pad van groei

Lees ook: Padaanwysers op jou pad van groei