Invloede op jou lewe: Rol van ‘n MA

You are currently viewing Invloede op jou lewe: Rol van ‘n MA

Wat is ‘n MA wond?

In hierdie artikel kyk ons na die letsels wat ‘n gebrekkige verhouding met ‘n persoon se ma op hom kon laat. Vir elke persoon wat gebore word, is die sagte aanraking, versorging, voeding en liefde van ‘n ma van uiterste noodsaaklikheid. ‘n Gebrek hieraan, kan ‘n geweldig groot impak op ‘n persoon se psige en emosies hê.

Trauma as baba

Die invloed wat ‘n ma op haar kind het begin reeds in die baarmoeder. Dit wat die ma tydens haar swangerskap ervaar, sal ‘n groot rol speel in die ontwikkeling van die kind. ‘n Baba kan reeds in die baarmoeder verwerping ervaar as dit ‘n ongewenste kind is wat buite-egtelik of weens verkragting verwek is, wat onbepland of ontydig is, of as daar reeds te veel ander kinders in die gesin is.

‘n Baie traumatiese of uitgerekte geboorteproses, of skeiding van die ma tydens geboorte, kan die oorsaak wees van skeidingsangs, onsekerheid en vrese. Enige vorm van skeiding van die ma en haar baba, of ma en ‘n jong kind (deur siekte, dood, hospitalisasie of aanneming), het ‘n baie groot emosionele impak op die kind. Dit kan ‘n persoon in sy volwasse lewe ernstig affekteer, totdat hy genesing daarvoor ontvang.

Trauma van jong kind

Die mense wat my pad kruis wat as jong kind deur hulle ma’s verwaarloos, mishandel, verwerp of selfs seksueel misbruik is, is een van die mees hartseer dinge wat mens seker kan teëkom. Vir mens (en selfs diere) is die mees natuurlike instink vir ‘n ma om haar kinders met haar lewe te beskerm en versorg. Wanneer dit NIE plaasvind nie, kan daar beswaarlik ‘n meer intense vorm van verwaarlosing of verwerping ervaar word.

Soms is die ma vanweë emosionele spanning, siekte of finansiële probleme bloot net nie in staat om na haar kinders te kyk nie. Dit is my ondervinding dat dit ‘n kind se natuurlike instink is om selfs in die haglikste omstandighede steeds te kies om by hulle ma te bly. Ek het onderwys gegee vir kindertjies wat soms nagte op die straat moes deurbring, terwyl die mamma wat ‘n prostituut is, in hulle huis haar geld vir die gesin moes verdien. Hierdie kinders wou niks sleg van hulle ma hoor nie en het selfs verkies om eerder in hierdie haglike omstandighede te bly, eerder as om na die “koshuis” (soos hulle die weeshuis genoem het) te gaan.

‘n Aspek wat ook ‘n baie groot impak op die kind het, is wanneer die gesin deur die pa mishandel of seksueel misbruik word en die ma NIKS DAARAAN DOEN NIE. Soms is die ma bewus daarvan dat die pa die dogters seksueel misbruik, maar hulle verkies om stil te bly!

Gevolge van ‘n MA wond:

Wanneer die baie belangrike verbintenis tussen ma en kind traumaties verbreek word, kan dit tot baie ernstige emosionele skade by die indiwidu lei. Die persoon se vermoë om suksesvolle gesonde vriendskappe te hê of om ‘n gesonde liefdesverhouding in die huwelik te kan hê, word ernstig beïnvloed. Ons kyk na 2 hoof aspekte in ‘n persoon se lewe wat affekteer word:

  • Emosionele distansiëring
    • dit is ’n defensiewe reaksie wat ontstaan as teenreaksie teen die ma se distansiëring van die kind. Die behoefte aan liefde van die ma word onderdruk, wat die kind honger laat vir liefde, maar a.g.v. die emosionele onderdrukking, sukkel die persoon met gelukkige verhoudings. Die persoon vrees die pyn van verbintenis met ander mense en bou daarom beskermende mure rondom hom/haar om agter weg te kruip.
  • Emosionele afhanklikheid
    • in hierdie reaksie streef die persoon eindeloos om die gaping te vul deur oorafhanklikheid van ander en aan hul vas te kleef. Hierdie behoefte om aan ander vas te kleef, is gebaseer op ’n lae selfvertroue, vrees, onsekerheid en verwarring oor eie waarde.
Ander simptome kan onder andere insluit:
  • ’n Gevoel van verwerping en vrees vir alleenheid.
  • Skeidingsangs wat lei tot passiwiteit en depressie.
  • ’n Verlies aan selfwaarde.
  • ’n Kragtige honger vir vroulike aanraking wat kan lei tot erotisering.
  • Onnatuurlike gehegtheid aan fantasieë, dinge, klere, hare – die persone is dikwels opgaarders en sukkel om goed (selfs net iets soos verpakkingsmateriaal) weg te gooi.
  • ’n Emosionele afhanklikheid in verhoudings.
  • Moontlike geslagsverwarring, vrees en onsekerheid (insecurity).
  • Seksuele verwarring tov aanraking.
  • Vrouens internaliseer ‘n lae siening van vroue.
  • Mans ervaar gemengde gevoelens teenoor vrouens, wantrouig.

Genesing:

Soos met enige emosionele wonde is genesing wel moontlik. Mense vind dit baie insiggewend om tot kennis te kom en bloot net te verstáán hoekom dit wat met hulle gebeur het, die oorsaak van hulle emosionele probleme is. Joh. 8:32… “en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.” As jy ervaar dat jy in hierdie area van jou lewe skade gelei het, laat Vader jou lei na iemand wat met begrip die pad van herstel saam met jou kan stap. Bestudeer daarmee saam die inligting onder PADAANWYSERS, maak dit jou eie en begin stap ‘n nuwe pad as kind van GOD. Hy wil die gaping van ‘n Vader en/of Moeder in jou lewe kom vul.

  • Ps 27:10  Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.
  • Jes 66:13  Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.

Lees vervolgens: Invloede op jou lewe – Rol van die PA