Om die betekenis van die Verbondsmaal of Nagmaal te verstaan, kyk ons na:
- Die instelling van die Pasga
- Jesus vervang die Pasga lam
- Die instelling van die Nagmaal
- Die betekenis van die Nagmaal
In die artikel oor die VERBOND, het ons reeds gekyk na die agtergrond wat aanleiding gegee het tot die koms van die NUWE VERBOND. Ons vind in die Skrif baie insiggewende simboliek wat alles vir ons spreek van God se volmaakte plan om herstel te bewerkstellig tussen God en die mens. Hoe meer ons tot kennis kom van Sy volmaakte plan, hoe meer help dit ons om in die volle voordeel van ons erfenis te wandel. Die gesamentlike ete was altyd ‘n baie belangrike aspek van verbondsluiting. Die verbond was nooit afgehandel tensy die betrokke partye nie eers ’n verbondsmaal saam geëet het nie.
Oosterse gebruike
Oosterlinge heg baie groter waarde aan ’n ete as Westerlinge. Vir ’n Oosterling simboliseer ’n feesmaal ’n vredesverbond. Daarom sal hulle nie saam met enige iemand ’n ete nuttig nie. Sou daar in ’n tyd van oorlog ’n vyand in ’n Oosterling se kamp insluip, hy ’n tent indring en sodoende aan die tafel van daardie Oosterling beland, was die Oosterling verplig om die vyand met sy eie lewe te beskerm en ook teen sy makkers.
Die maaltyd is nie as ’n nagedagte ingesluit by verbondsluiting nie, maar is in wese die KERN van die verbond.
Voorbeelde van verbondsmaaltye in die Ou Testament:
- God en Abraham (Gen 18:8)
- Laban en Jakob (Gen 31:54)
1. DIE INSTELLING VAN DIE PASGA
God het Moses na Egipte gestuur om die volk te bevry van slawerny en hulle te lei na die Beloofde land (Gen 4-7). Omdat die volk slawe van Farao was, het hulle eers sy toestemming nodig gehad voordat hulle die land kon verlaat. Die Farao se ’n kroon was ’n opgerolde slang gemaak van suiwer goud. Die slang was ’n baie belangrike simbool van die Egiptenare. God het geweet dat Moses dadelik die slangaanbidders se aandag sou aangryp deur ‘n staf in ’n slang te verander. Aäron se staf, wat in ’n slang verander het, het die stawwe (slange) van die towenaars verslind. God het daardeur die belofte wat Hy in die tuin van Eden gemaak het, bevestig. Hy sou die slang (die simbool van Satan) kom vernietig (Gen. 3:14-15).
Die bloed en die lam
- Voor die uittog uit Egipte, het God die Pasga ingestel. Hulle moes ’n jaaroud lam neem en hom intensief ondersoek om seker te maak dat daar geen gebrek aan hom was nie.
- Ex 12:5 Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem.
- Na 3 dae was die lam geslag, sy bloed opgevang en dit was met ’n hisoptakkie aan die deurposte gesmeer.
- Ex 12:6-7 En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.
- Die lam is oor die vuur gebraai en die gesin moes daardie nag die hele lam opeet. Hulle moes staan terwyl hulle geëet het, hul heupe omgord, skoene aan en stawwe in die hand. Met die hele lam ín hulle, was hulle gereed om te vertrek.
Toepassing
- Die bloed aan die deurposte was die verbondsteken dat God hulle sou beskerm. Geeneen van die Israeliete se kinders het daardie nag gesterf nie, terwyl die res van Egipte almal hul eersgeborenes verloor het (Ex 12:13).
- Met die hele lam ín hulle is al die Israeliete genees en daar was nie een wat nie gereed was om te vertrek nie. Hulle is nie net bevry nie, maar ook volkome genees.
- Ps 105:37 Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
- Die lam (’n simbool of tipe van Jesus), het die slang (tipe van Satan) oorwin.
2. JESUS VERVANG DIE PASGA LAM
Die Lam word ondersoek
Volgens Joodse gebruike was ’n spesiale skaapras geteel met die uitsluitlike doel om tydens die pasga geslag te word. Hierdie skape is in die wildernis, weg van die stad gehou, en spesiale skaapwagters het hulle opgepas. Hierdie skaapwagters het dan 3 dae voor die pasga die spesiaal uitgesoekte jaaroud lammers na die stad gebring om by die tempel ondersoek te word.
Jesus het Jerusalem dikwels besoek en deur die stadspoorte die stad binnegestap. Drie dae voor Sy kruisiging kom Hy egter op ‘n besondere wyse die stad binne:
- Mark 11:7-9 En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit. Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad. En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
Hierdie was ’n besondere intog van Jesus in Jerusalem. Jesus het tog telkemale vantevore al die stad binnegekom, so wát was besonders aan hierdie geleentheid? Hierdie intog was op dieselfde dag wat die spesiale lammers by die Skaappoort ingebring is om by die tempel ondersoek te word. Jesus, die Paaslam, het Homself drie dae voor Sy dood by die tempel gaan aanmeld om ondersoek te word.
Jesus was ook deur die Owerpriesters en Skrifgeleerdes ondersoek en ondervra. Hulle het op alle moontlike maniere probeer om met Hom fout te vind. Hulle kon egter niks vind wat hulle teen Hom kon inbring nie.
Die Lam word geslag
En toe Jesus al hierdie woorde geëindig het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word. Matt 26:1-2
Hierdie Lam was volmaak en sonder vlek. Hy was geskik om geoffer te word.
En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het (Mark 15:25). Die derde uur volgens die Joodse tyd was teen 9 vm. Dit was dieselfde tyd wat die lammers uitgelei was om teen 3 nm by die tempel geslag te word. Terwyl die Priesters die paaslammers voorberei het vir die pasga, is die Paaslam aan die kruis vasgenael.
En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. En die negende uur het Jesus met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mark 15:33-34) Dit was teen negende uur (3nm), terwyl hulle die paaslammers geslag het, wat Jesus uitgeroep het: “Dit is volbring!” Hierdie is seker die mees kragtige woorde wat nog ooit in die geskiedenis gespreek is:
Die prys is betaal! Die nuwe verbond is gesluit.
Dit sou nooit weer nodig wees om enige diere-offers te bring nie, want Hy het die volmaakte offer gebring. Dit was gebruik van die Romeinse soldate om die gekruisigdes se bene te breek om hul dood te verhaas. Jesus se bene was egter nooit gebreek nie, want dit sou Hom ’n onaanvaarbare offer gemaak het volgens die voorskrifte aan Moses. Hierdeur is die Skrif ook vervul wat profeties voorspel het dat Sy bene nie gebreek sou word nie.
3. DIE INSTELLING VAN DIE NAGMAAL
Die Pasga is, sedert die instelling daarvan in Egipte, jaarliks deur die Israeliete gevier. Na Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem, stuur Hy Petrus en Johannes om die nodige voorbereidings te tref sodat Hy saam met die dissipels die Pasga kan vier. Tydens hiérdie viering van die Pasga, gebeur daar iets nuuts:
- Luk 22:7+17-20 En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.
Jesus het die brood geneem en gesê: “Dit is my liggaam.” Hy het die beker (waaruit tradisoneel niemand gedrink het nie) geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament…”! Hierdie was die VERBONDSMAAL wat die bevestiging was van die sluiting van die NUWE VERBOND. Jesus het hiermee aan die dissipels gesê dat Hy op pad was om ‘n nuwe verbond te sluit.
Wanneer Jesus dus sê dat ons die Verbondsmaal (Nagmaal) moet gebruik tot Sy gedagtenis, sê Hy nie hiermee dat ons aan Sy dood moet dink en dit dan in ’n somber, morbiede begrafnis atmosfeer moet doen nie. Hy wil hê dat ons die verbond moet onthou.
Wat moet ons in gedagtenis bring?
Die nuwe verbond met beter beloftes. Dit is ’n vreugdefees en ons kan dit enige tyd, soveel as wat ons wil, gebruik! Hierdie maal is die teken dat die “Ek is” in enige situasie tot ons beskikking is.
4. DIE BETEKENIS VAN DIE NAGMAAL
- Dit is ‘n herinnering aan die volkome offer wat vir elkeen gebring is.
- 1 Kor 11:24 en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
- Dit is ‘n evangelisasie-geleentheid.
- 1 Kor 11:26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
- Ons kan aan enige persoon gaan vertel hoe lief God hom/haar het; ongeag die misstap wat so ‘n persoon sou begaan het. Ons kan verder vertel dat Hy reeds in hulle plek gesterf het, en die prys vir hulle betaal het. Die groot voorreg is om dan vir hulle die nagmaal te kan verduidelik en aanbied as ‘n teken van dìt waarvan hulle ook deel is, en dit dan aan hulle te bied met die bede dat hulle Jesus Christus sal aanvaar.
- Dit is vir die kinders van God ‘n vreugdefees. Ons is bly oor die oorwinning wat ons in Jesus Christus het.
- Dit is ook ‘n dankfees, omdat Hy in ons plek gesterf het toe ons nog sondaars was.
- Rom 5:8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
- Dit is ‘n fees wat ons toekomsverwagting bevestig. Hy kom weer.
- 1 Kor 11:26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
- Dit is ‘n vereenselwigingsfees. Vir dié wat dit werklik verstaan, is dit ‘n opwinding om te weet dat ek deel was van daardie pyn en lyding op Golgota. Dit is asof ek self aan daardie kruishout was. Jesus het letterlik my plek ingeneem en vir MY gesterf. Enige persoon wat die betekenis van die nagmaal verstaan en hulle daarmee wil vereenselwig, behoort aangemoedig te word om die teken van Jesus se oorwinning te gebruik.
- Ouers het die verantwoordelikheid om die betekenis aan hul kinders te verduidelik.
- Daar is ook ‘n wyer betekenis van die nagmaal.
- Jes 53:4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte–dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
- Jes 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Die werk van Jesus wat deur dié teken bevestig word, was tweeledig:
- Die Bloed van Jesus het gevloei vir die vergifnis van al die sondes van die mens.
- Die Liggaam van Jesus is uitmekaar geskeur en vermorsel vir ons genesing – na liggam, siel en gees.
- 1 Pet 2:24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
DIE WERK VAN JESUS AAN DIE KRUIS WAS DUS VOLMAAK!