Jy is geklee met geregtigheid (Deel 1): Betekenis

You are currently viewing Jy is geklee met geregtigheid (Deel 1): Betekenis

Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil (salvation) my in die mantel van geregtigheid (righteouness) gewikkel – soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele. Jes. 61:10

God se droom vir die mensdom is gedwarsboom deur die sondeval. Hy bewerkstellig egter herstel en versoening in Sy verhouding met die mensdom deur Sy Seun Jesus te stuur om gekruisig te word. 2 Kor. 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. In die volgende twee artikels kyk ons na wat hierdie geregtigheid (vryspraak) vir ons as gelowiges beteken. Die pad van die skepping – tot die sondeval – tot geregtigheid, kan ons aan die hand van die volgende skematiese voorstelling opsom.

(LW Die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling, asook die Nuwe Lewende Vertaling gebruik die woord vryspraak waar die 1953 vertaling die woord geregtigheid gebruik. In Engelse vertalings word “righteousness” gebruik. Soos wat uit die artikel sal blyk, sê die woord geregtigheid vir my veel meer as net vryspraak.)

  1. Skeppingsdoel:
    • God het die mens, waarvan Adam en Eva die eerste was, geskep om in ‘n volmaakte liefdesverhouding met Hom te leef.
    • Die mens moes heers as God se verteenwoordiger op aarde.
  2. Sondeval:
    • Adam en Eva eet van die verbode boom van kennis van goed en kwaad en word uit die tuin van Eden verban.
    • Díe ongeregtigheid bring ‘n skeidsmuur (Jes. 59:2) tussen God en die mens.
  3. Mensdom sonder God:
  4. Kruisiging:
    • Jesus word die volmaakte Offerlam wat eenmaal geslag hoef te word.
  5. Mensdom geregtig voor God:
    • Jesus se offer word deur God aanvaar en Hy hiermee bring volkome herstel tussen God en die mens.
    • Die mens is dus herstel in ‘n posisie van geregtigheid voor God.
  6. Gelowiges wat die offer van Jesus aanvaar, kan weer in ‘n herstelde liefdesverhouding met God leef.

1. Wat is geregtigheid?

Die woord “geregtigheid” (in Grieks = Dikaiosune) beteken:

  • Om reg te wees, m.a.w. om niks verskuldig te wees nie.
  • Om aan die vereiste standaard te voldoen
  • Om gelykwaardige stand (posisie) te hê.

2. Wat is die “geregtigheid van God”?

Dit impliseer God se posisie of stand t.o.v. Homself. Wat sien God as Hy na Homself kyk? Hy sien volmaaktheid, heiligheid, liefde, ens. God voldoen volkome aan Sy eie standaard. Daar is geen ongeregtigheid in Hom nie. Hy is aan niks skuldig nie. Hy is volkome reg met Homself.

Jesus het dieselfde stand van geregtigheid as God gehad. Hy was gelyk aan God. Daar was in Hom geen ongeregtigheid of sonde nie.

  • Fil 2:6  Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie.

Jesus, wat geen sonde geken of gedoen het nie, is sonde gemaak! (2 Kor. 5:21) Sonde/ongeregtigheid van die mensdom is op Hóm geplaas. Die Offerlam moes vir die ongeregtigheid van die mensdom gekruisig word.

Hoekom?

Sodat die mensdom, wat deur die sondeval in ‘n posisie van ongeregtigheid voor God beland het, ‘n herstelde posisie/stand van geregtigheid voor God kon hê. Jesus wat geen sonde geken of gedoen het nie, was gelyk aan God en dus geklee met geregtigheid. Die mensdom was a.g.v. die sondeval geklee met ‘n kleed van sonde, ongeregtigheid, misdade en oortredinge. Sonde en oortredinge moes gestraf word, maar Jesus het die kleed van ongeregtigheid sélf aangetrek. In óns plek het Hy as offer vir ál die oortredinge van die mensdom, van die verlede en die toekoms, gesterf. Hy het ons besoedelde kleed omgeruil met Sy kleed van geregtigheid.

  • Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Na die sondeval was die mens geklee in ‘n besoedelde kleed. Jesus het die besoedelde kleed van ons weggeneem en ons soos ‘n bruidspaar kom klee in ‘n kleed van geregtigheid.

  • Isa 61:10  I will greatly rejoice in Jehovah, my soul will be joyful in my God; for He has clothed me with the robes of salvation, He covered me with the robe of righteousness like a bridegroom adorns himself with ornaments, and like a bride adorns herself with her jewels.
  • Jes. 61:10 … my in die mantel van geregtigheid gewikkel…

Hierdie woorde laat my glimlag. Ek sien in my geestesoog ‘n ouer wat ‘n kind in ‘n warm handdoek toewikkel as hy uit die water kom. God wikkel ons toe in ‘n kleed van geregtigheid en druk ons vas teen Sy bors.

3. Wat beteken dit om met geregtigheid geklee te wees?

As Koningskinders, gewikkel in ‘n kleed van geregtigheid, neem ons ‘n nuwe posisie voor God se troon in. Wat behels my stand as Koningskind?

  1. As ons sou vra: “Wat is die stand van sake tussen God en die mens nou na Jesus se kruisdood?” Dan is die antwoord: “volkome herstel”; “die twee partye is volkome versoen”. (Dit is veel meer as om net vrygespreek te word.)
  2. Die Engelse term Righteousness beteken “to be in right-standing with God”.
    • 2 Cor. 5:21 (Amp) …become the righteousness of God [what we ought to be, approved and acceptable and in right relationship with Him, by His goodness].
  3. Die verhouding tussen God en die mens is reggestel. Ons staan volkome geregtig voor Hom. As Hy na my kyk, kyk Hy na die offer van Jesus en sien volkome geregtigheid. Hy sien dus al die eienskappe van geregtigheid – volmaaktheid, heiligheid, reinheid. Hy kyk na ons en sien “geregtigheid” en kan nie meer sonde raaksien nie (Heb. 10:17).
  4. Geregtigheid is dus die vermoë wat die mens ontvang het om voor God te staan, sonder ‘n bewustheid van sonde, skuld of minderwaardigheid. Ons staan voor God asof sonde nooit bestaan het nie.
    • Righteousness is “the ability to stand before God without the sense of guilt or inferiority; standing before God “as if sin never existed.” It is freedom from “sin-consciousness”
  5. Dit is dus nie net hoe God ons sien nie, maar ook hoe ons onsself moet sien! So dikwels bly mense vasgevang in skuldgevoelens van hul sonde van die verlede. Ons moet onsself sien soos wat God ons sien om met vrymoedigheid die pad van oorwinning te kan wandel. Sien jy jouself as Koningskind, gewikkel in ‘n mantel van geregtigheid en volkome sonder sonde skuld of minderwaardigheid?
  6. Ons stand van geregtigheid beskryf ons adellike posisie voor God. Ons is herstel tot dieselfde posisie as wat Adam en Eva voor die sondeval was. Ons is almal bekend met die koninklike adelstand van ‘n land soos Brittanje. Prins Charles hoef nie te wonder of Hy ‘n koningskind is nie. Hy wéét wat sy stand as die seun van die koningin van Engeland is. Net so hoef ons ook nie te twyfel aan ons addelike stand voor God nie. Ons is nou Koningskinders, erfgename van God en mede-erfgename van Christus. (Rom 8:15-17).
  7. Net voordat Jesus opvaar hemel toe, sê Hy aan die dissipels: “Aan my is gegee alle mag in die hemel en op die aarde”. Vanuit hierdie posisie van mag en outoriteit stuur hy ons almal uit om sy dissipels te wees. Ons geregtigheid stel ons in dieselfde posisie van outoriteit om oorwinning oor die vyand aan die mensdom te gaan bedien (Mark. 16:17-18)

Sien ons onsself as minderwaardig of sien ons onsself as oorwinnaars? Vanuit ons posisie van geregtigheid, kan ons onsself sien as erfgename met ‘n wonderlike erfporsie wat ons kan opneem en vir onsself toe-eien.

Isa 58:8  Then shall your light break out as the dawn, and your health shall spring out quickly; and your righteousness shall go before you; the glory of Jehovah shall gather you.

4. Jesus het vir die ganse mensdom gesterf. Gaan almal dan hemel toe?

Van God se kant af, het Hy reeds alles gedoen om die verhouding tussen Hom en die mensdom te herstel.

  • Kol 2:13-14  En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
  • 2 Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Versoening tussen God en die mens, is vir God ‘n afgehandele saak.

Beteken dit nou dat alle mense in ‘n liefdesverhouding met God wandel en hemel toe kan gaan?

Nee, beslis nie. Die mens het sy stand van geregtigheid deur Adam se keuse verloor. Die enigste manier hoe ek en jy weer kan terugkeer in ‘n verhouding met Hom is om ‘n keuse te maak.

Wat is die keuse?
  • Joh 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

God sien ons reeds regverdig, maar ons moet steeds nog kies om die offer van Jesus te aanvaar, voordat ons die ewige lewe in die hemel kan ontvang (Joh.3:16). As ons nie die offer, nl. Jesus aanvaar nie, kan ons naam nie in die Boek van die Lewe opgeskryf word nie. Duisende gaan “onwettig” hel toe, want daar is reeds vir hulle betaal om die hemel te ontvang. Hulle is duur gekoop.

Wanneer ons die offer aanvaar, word ons beklee met Jesus Christus.
  • Rom 13:14  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
  • Gal 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Dit is dus nie ons sonde (verkeerde dade soos moord, ontrou, steel, vloek, skinder…) wat ons laat hel toe gaan nie, maar die EEN verkeerde keuse. Dit is om nie vir Jesus as ons Verlosser te aanvaar nie.

Joh. 16:9 verduidelik aan ons wat dié sonde is waarvan die Heilige Gees ons kom oortuig:

  • Joh 16:7-9  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie.

Dit is die enigste sonde waarvoor mens kan hel toe gaan. Dit is om die offer van Jesus te verwerp. Om nie in Hom te glo as die enigste Middelaar en Verlosser nie.

5. Kan die mens nog iets doen om geregtigheid te verdien?

God het van Sy kant af reeds ALLES gedoen wat nodig is om die mensdom met Homself te versoen. As iemand nie die keuse maak om gered te word nie, kan God (met alle respek gesê) niks meer doen om by te dra tot enige iemand se redding nie. Wat kan ons nóg meer van Hom verwag, as dat Hy reeds Sy kosbaarste besitting gegee het?

Kan ek nog iets doen om meer guns in God se oë te hê? Nee, niks nie! Jesus het alles gedoen. As ek reeds my ouers se kind is, kan ek nie nog iets doen om meer hul kind te word nie.

Die verlore seun besluit om na baie verkeerde keuses weer terug te keer na sy pa. Hy het nie in die tyd wat hy weg was, nie opgehou om sy pa se kind te wees nie. Die pa ontvang die seun met ope arms en met onvoorwaardelike liefde. Hy het nie nodig om soos ‘n slaaf eers sy pad oop te verdien terug na sy pa se hart toe nie. Sy pa het in ieder geval met groot afwagting vir hom gewag. Hy hoef net in sy stand as seun weer terug te stap om die volle voordeel van sy pa se huis te geniet.

Die pa sê vir sy diensknegte: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan…” (Luk 15:22) Wanneer ons na ons Vader toe terugkeer, word ons met die BESTE KLEED geklee – die kleed van GEREGTIGHEID word om ons skouers gehang!

God wag met ope arms dat elke persoon moet terugkom in sy erfenis wat reeds vir hom verdien is.

  • 2 Pet 3:9  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

6. Die rol van GELOOF

  • Ef 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Ons het nou reeds gesien dat die volle prys betaal is om die mens te herstel in sy posisie van geregtigheid voor God. Ons kan niks byvoeg by die offer van Jesus om ons posisie voor God te verbeter nie. Dit is reeds volkome herstel. Ons moet net die offer aanvaar.

Hoe aanvaar ons die offer?

Ek kan niks doen nie. Die enigste beginsel wat hier geld, is die beginsel van GELOOF. Hierdie beginsel het God reeds in die Ou Testament gevestig in Abraham:

  • Gen 15:6  En hy (Abraham) het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
  • Rom 4:2-5  Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.

Soos wat Abraham geglo het en dit hom tot geregtigheid gereken is, is ons geloof in Jesus, die enigste weg na ‘n herstelde verhouding met God.

Wat moet ons glo?
  1. Dat Jesus die Seun van God is.
  2. Dat Hy die volle prys vir versoening aan die kruis betaal het.
  3. Dat ons volkome met God versoen is en gered word deur Sy offer.

Deur dít te glo, verkry ons toegang tot die ewige lewe in die hemel en ook die volle voordeel van ons erfenis wat ons as kinders van God ontvang.

  • Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
  • Joh 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
  • Hand 13:39  en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.
  • Rom 1:17  Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.
Wat gebeur as ons in die offer glo?
  • Ons word kinders van God.
    • Joh 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
  • Ons ontvang die ewige lewe.
    • Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
  • Ons word beklee met ‘n nuwe kleed van geregtigheid.
  • Word ‘n erfgenaam met ‘n erfporsie wat ons in besit kan neem.
    • Gal 4:6-7  En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
    • Rom 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
  • Word ‘n nuwe skepsel.
    • 2 Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
  • Word verseël met die Heilige Gees. Die Heilige Gees wil ons leer en herinner aan ons erfenis wat ons in besit kan neem.
    • Ef 1:13  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

OPSOMMING

Die Ou Testament was ‘n pad van voorbereiding vir die mensdom vir die nuwe herstelde verhouding tussen God en mens. Jesus betaal die volle prys vir volkome herstel. Die verhouding tussen God en mens is presies dieselfde as wat Sy verhouding met Adam en Eva was vóór die sondeval. Die outoriteit om te heers oor die aarde is aan ons teruggegee. Ons kan nou met vrymoedigheid tot God nader en in ‘n intieme liefdesverhouding met Hom wandel. Ons denke en ons wandel baseer ons op die wéte dat ons geklee is met die geregtigheid van God.

Hierdie gedeelte in die Skrif som dit op: (Amplified)

Rom 3:20-24 For no person will be justified (made righteous, acquitted, and judged acceptable) in His sight by observing the works prescribed by the Law. For [the real function of] the Law is to make men recognize and be conscious of sin [not mere perception, but an acquaintance with sin which works toward repentance, faith, and holy character]. But now the righteousness of God has been revealed independently and altogether apart from the Law, although actually it is attested by the Law and the Prophets.

Namely, the righteousness of God which comes by believing with personal trust and confident reliance on Jesus Christ (the Messiah). [And it is meant] for all who believe. For there is no distinction. Since all have sinned and are falling short of the honor and glory which God bestows and receives. [All] are justified and made upright and in right standing with God, freely and gratuitously by His grace (His unmerited favor and mercy), through the redemption which is [provided] in Christ Jesus.

Lees vervolgens: Jy is geklee met geregtigheid (Deel 2): Wat is jou erfenis?