Invloede op jou lewe: Verwerping

You are currently viewing Invloede op jou lewe: Verwerping

Wie van ons is nie al op een of ander stadium in ons lewe deur iemand verwerp nie? Alle mense ken die pyn en hartseer van verwerping. Verwerping deur mense wie se opinie nie vir ons van waarde is nie, kan soos water van ’n eend se rug wees. Verwerping deur hulle wie ons vertrou het, is egter selfs vir die sterkste persoon ’n baie hartseer en traumatiese ervaring.

Verwerping as kind, kan van die lewe se mees pynlike en skadelike ervarings wees. Verwerping as jong kind, het ’n dramatiese invloed op die vorming van ’n persoon se siening van homself, van ander mense en ook van God. Wanneer ‘n persoon wat ’n groot rol speel in die kind se lewe, hetsy die ouers, grootouer, of iemand wat baie hoog geag word deur die kind, hom verwerp, sal die kind voel hy is ongeliefd en gevoelens van onwaardigheid, nutteloosheid en onbelangrikheid ervaar. Hoewel daar baie verskillende oorsake vir verwerping kan wees (insluitende geestelike-, fisiese- of seksuele verwerping), kan onnadenkende of neerhalende woorde van ouers, asook baie kritiek, kinders ’n leeftyd lank verwerp laat voel.

Soms ervaar iemand verwerping deur net ‘n baie ongevraagde, onnadenkende opmerking wat gemaak is. ’n Traumatiese ervaring soos egskeiding kan ’n groot oorsaak van verwerping wees vir beide volwassenes en kinders. Geskeides kan sukkel met gevoelens van mislukking of ’n lae selfbeeld.

Ons kan nie verwerping in ons lewens vermy nie, want ons kan nie beheer hoe ander oor ons voel en teenoor ons optree nie. Selfs die sterkste persoon kan nie onaangeraak wees teen verwerping van mense wat saak gemaak het in hulle lewens nie. Wanneer ’n persoon reeds sukkel met selfaanvaarding, sal enige vorm van verwerping hierdie gevoelens van onwaardigheid net nog verder versterk. Dit kan AL die persoon se verhoudings en ook sy verhouding met God ernstig beïnvloed.

Selfondersoek:

  • Neem tyd om bietjie oor die volgende vrae te mediteer voordat jy verder lees:
    • Skryf neer enige gebeurtenis(se) in jou verlede wat veroorsaak het dat jy verwerping ervaar het.
      • as baba of jong kind
      • in jou tienerjare
      • as jong volwassene
      • in jou latere lewe
      • in jou werkplek/groepe
      • in die kerk
      • in sosiale kringe
    • Hoe het die verwerping jou verhoudings met mense beïnvloed?
    • Hoe het die verwerping jou siening van God en verhouding MET God beïnvloed?
    • Hoe het die verwerping dalk veroorsaak dat jy ander verwerp het?

Gevolge van verwerping:

Elke persoon het ’n basiese behoefte aan aanvaarding. Die volgende kan aanduidende karatereienskappe wees wat kenmerkend is van mense wat sukkel met gevoelens van verwerping.

  • Projekteer ’n valse meerderwaardigheidsgevoel
  • Perfeksionisme
  • Woede
  • Gevoelens van minderwaardigheid
  • Ag die goeie wat ander vir jou doen verdag
  • Bevraagteken altyd ander se bedoelings
  • Vrees vir ander se opinie
  • Erge depressie of gedagtes van selfdood
  • Oorbeklemtoning van materiële besit, klere en voorkoms
  • Oorbeklemtoning op die sensuele
  • Selfopgelegde isolasie
  • Kom dominerend voor
  • Kritiese gees
  • Sukkel om God te vertrou
  • Sukkel om ander te vertrou

Die keuse is joune

Die enigste persoon wat die skadelike gevolge van verwerping in jou lewe kan stop, is jyself! God voorsien aan ons die geestelike gereedskap hoe om dit te doen. Ons moet kies om dit te gebruik. Afsku en bitterheid teenoor mense wat ons verwerp laat voel het, lei net daartoe dat ons selfbeeld verder skade lei. Ongeag hoe diep seer hulle jou gemaak het, vergifnis is die enigste oplossing in jou pad tot herstel.

God het nooit bedoel dat die mens moet sukkel met ’n lae selfbeeld of met verwerping nie. Hy wil daarenteen vir ons herinner aan die waarde wat ons het, nie op grond van wat ons doen nie, maar wat ons IS deur Jesus Christus in ons lewens toe te laat.

Ons enigste troos

 Wanneer ons verwerping ervaar, kan ons ons hieraan troos:

  1. Dat ons waarde nie deur mense bepaal word nie, maar deur God.
  2. Dat God ons onvoorwaardelik liefhet! (NIKS KAN ONS VAN SY LIEFDE SKEI – Rom. 8:28)

Soms wil mense jou manipuleer om op ’n sekere manier op te tree. Wanneer jy dit nie doen nie, reageer hulle deur jou te verwerp. Die enigste manier om nie ’n slagoffer hiervan te word nie, is om jou waarde in Christus te ken en daarvolgens jouself te handhaaf. Solank jou selfbeeld of selfvertroue gebaseer is op ander se siening van jou, loop jy ’n ernstige risiko om een of ander tyd verwerping te ervaar.

Petrus troos gelowiges wat slagoffers van vervolging en verwerping is, deur hul te herinner aan hul identiteit in Christus:

  • 1 Pet 2:9-10  But you are a chosen race, a royal priesthood, a dedicated nation, [God’s] own purchased, special people, that you may set forth the wonderful deeds and display the virtues and perfections of Him Who called you out of darkness into His marvelous light. Once you were not a people [at all], but now you are God’s people; once you were unpitied, but now you are pitied and have received mercy.  

Het jy al ‘n oortuiging in jou diepste wese van jou waarde en identiteit in Christus? (Sien in die artikel oor jou Identiteit in Christus meer hieroor)?

Hoe hanteer jy verwerping?

As jy nog sukkel met die gevolge van verwerping van die verlede of wanneer jy wéér verwerping ervaar, doen die volgende stappe:

  • IDENTIFISEER die probleem en wees eerlik oor jou gevoelens.
  • BEVESTIG jou posisie in Christus. Neem die probleem na Hom toe en wees eerlik oor hoe jy voel.
  • MEDITEER op die onveranderende waarheid dat Hy jou onvoorwaardelik liefhet, jy volkome aanvaar word en volledig is in Christus.

Wanneer ons verwerping ervaar, moet ons net onsself daaraan herinner dat gewonde mense ander mense leed of pyn aandoen. Deur dit te verstaan, kry ons perspektief op die rede agter die ander persoon se optrede.

Optrede van geestelik volwasse persone

In ons volwasse lewe is verwerping steeds ‘n nare realiteit. Persoonlik help dit my geweldig baie om in enige situasie van verwerping net myself af te vra: WAT SAL DIE REDE IN DAARDIE PERSOON SE LEWE WEES WAT VEROORSAAK DAT HY OF SY SO TEENOOR MY OPTREE? Al ken jy nie die antwoord nie, kan jy jouself daaraan troos dat daar iets in daardie persoon se lewe sal wees, wat sy/haar onnadenkende of liefdelose gedrag tot gevolg het. ‘n Emosioneel volwasse persoon tree nie so op nie en sal, as daar rede vir konflik is, dit met jou bespreek en uitsorteer. Om ander se pyn raak te sien, neem die fokus van ons eie pyn van verwerping af en laat ons dan eerder met empatie kyk na die ander persoon. DIT IS BAIE BEVRYDEND!

Kyk na alle mense met die oë waarmee Vader na hulle sou kyk en neem die fokus weg van hoe JY gepynig is. Dit is beslis nie altyd maklik nie. In situasies van konflik is dit egter WEL nodig om introspeksie te doen en jouself af te vra wat jy dalk gedoen of gesê het wat aanleiding kon gee daartoe dat iemand jou verwerp. Neem dit biddend na die Vader toe. Hy sal aan jou die waarheid openbaar. Suiwer jou hart, bely as jy verkeerd opgetree het en vra om vergifnis. As die herstel van ‘n verhouding vir jou werklik belangrik is, is dit soms nodig om vergifnis te vra, al wéét jy jy het niks verkeerd gedoen nie.

Jesus se verwerping

Jesus is deur baie mense, sy familie, die kerk, sy naaste vriende en uiteindelik ook sy dissipels verwerp. Op die oog af het die verwerping van mense Hom nie soveel gepla nie, want Hy was verseker van die Vader se liefde en aanvaarding. Hy het egter aan die einde van Sy lewe die ergste vorm van verwerping ervaar wat enige mens moontlik kan ervaar, nl. om deur God verwerp te word. Jesus kán dus met jou verwerping identifiseer en wíl die wonde kom genees.

Jesus het vir elke vorm van verwerping gesterf deur dit saam met Hom op die kruis te neem. Daarom is daar by die kruis genesing vir die verwerping, hoe klein of groot ook al, wat jy dalk in jou lewe ervaar het.


Lees vervolgens: Struikelblokke op jou pad – Oorlog in jou denke